(4 porsies)

  • 15 ml gesmelte botter (om bakkies mee te smeer)
  • 35 ml botter
  • 60 ml meel
  • 250 ml volroommelk
  • 125 g bloukaas, gekrummel
  • 100 g droë beesbiltong (fyngekap in jou voedselverwerker)
  • 4 eiergele
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 5 eierwitte

Verhit jou oond tot 180 °C. Smeer ’n ronde bak van ongeveer 12 cm in deursnee met die 15 ml gesmelte botter. Smelt die 35 ml botter in ’n kastrol, voeg die meel by en roer goed tot ’n gladde pasta. Roer die melk bietjie vir bietjie by - eintlik maak jy nou ’n witsous. Voeg eers die bloukaas en dan die gekapte biltong by. Voeg die eiergele een vir een by en hou aan met roer oor lae hitte. Geur met peper - moenie sout byvoeg nie, die kaas en biltong bevat genoeg. In dié stadium kan jy die mengsel laat staan tot jy gereed is om dit te bak. Klits die eierwitte dan styf en vou versigtig in die kaasmengsel in. Skep die vulsel in die bak en trek met ’n mes al om die binnerand van die bak. Bak vir 45 minute tot ’n uur. Sit dadelik voor.

Om te drink

Met biltong in die resep kan ’n mens nie anders as om patrioties te wees nie. Bederf jou gaste met ’n Kanonkop Pinotage - dit is immers legendaries.