6 porsies

  • 1,5 kg dikrib-beesvleis
  • 1 bottel rooiwyn (gebruik ‘n pinotage of cabernet sauvignon)
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap bouquet garni (jy kan jou eie maak deur vars kruie met 'n toutjie saam te bind - ideaal is vars tiemie, pietersielie, lourierblaar en selderyblare)
  • 70 g botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 wortels, in lang stukke gesny
  • 2 eetlepels koekmeel
  • 250 g repie-spek, in blokkies gesny
  • 300 g klein uitjies
  • 250 g klein wit sampioene
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Sny die beesvleis in blokke. Plaas die vleis, wyn, knoffel en bouquet garni in ’n groot bak. Bedek met kleefplastiek en marineer oornag in yskas. Voorverhit die oond tot 160 °C. Haal die vleis uit die marinade en droog af met kombuispapier. Verhit die helfte van die botter in ’n groot kasserol. Voeg die ui, wortel en bouquet garni by en braai vir sowat 10 minute. Haal van die hitte af. Smelt die res van die botter in ’n groot pan. Braai die vleis (nie alles gelyk nie) tot bruin - dit sal sowat 5 minute op ’n slag wees. Voeg nou die vleis in die kasserol saam met die wortel en uie. Gooi die wyn-marinade in die pan waarin jy die vleis gebraai het, en laat kook vir so 30 sekondes. Sit die kasserol terug op die plaat en sprinkel die meel oor die groente en vleis. Roer tot die vleis goed met meel bedek is. Gooi nou die wynmarinade oor en bring tot kookpunt. Roer gedurig. Plaas die kasserol in die oond vir 2 uur. Smelt ’n eetlepel botter in ’n pan en braai die klein uitjies en spek vir sowat 10 minute. Voeg sampioene by en braai nog 3 minute. Voeg by kasserol en sit terug in die oond vir nog 30 minute. Sit voor met ’n Franse brood.

Om te drink
Probeer 'n slag pinot noir, 'n heerlike ligte, vrugtige rooiwyn. Groote Post en Glen Carlou maak uitstekende pinot noirs.