• 250 g witbroodmeel
  • 250 g koekmeel
  • 10 ml sout
  • 1 x 10 g kitssuurdeeg
  • 15 ml suiker
  • 315 ml warm water
  • 45 ml olyfolie
  • 1 takkie vars roosmaryn
  • growwe sout

Meng die broodmeel, koekmeel, sout en suurdeeg in ’n elektriese menger met ’n deeghaak. Meng die suiker en warm water saam en voeg by die meel. Skakel die menger aan en meng goed. As alternatief kan jy die deeg met jou hande knie. Ek hou nogal daarvan om die deeg met my hande te bewerk. Knie die deeg sowat 10 minute tot elasties. Plaas in ’n bak wat groot genoeg is en maak toe met kleefplastiek. Laat ruimte vir die deeg om te rys. Laat rys in ’n louwarm plek tot amper dubbel die volume. Knie die deeg af en voeg die olyfolie by. Knie die olyfolie by die deeg in en vorm in ’n ovaalvormige brood. Druk klein stukkies vars roosmaryn bo-op en plaas nou die brood op ’n gesmeerde bakplaat en laat weer tot dubbel die volume rys. Bak in ’n voorverhitte oond van 200 °C vir ongeveer 30 minute. As jy die brood klop en dit klink hol, is dit gaar.