Vir die konfyt

  • 250 g vars bloubessies
  • 250 ml (200 g) witsuiker
  • 100 ml water

Meng bloubessies, suiker en water saam in ’n mediumgroot kastrol. Laat prut oor stadige hitte vir 60 minute tewyl jy voortdurend die skuimlagie wat bo-op vorm, afskep. Toets die konfyt ná ’n halfuur deur ’n klein bietjie van die stroop op ’n bord te skep en dit te laat afkoel. As dit nog te loperig is, laat prut dit verder en toets weer. Sodra dit die dikte is wat jy verkies, haal af en laat afkoel.

Brosbrood

  • 420 ml (240 g) koekmeel
  • 210 ml (100 g) mielieblom
  • knippie sout
  • 270 ml (250 g) sagte botter
  • 120 ml (100 g) strooisuiker
  • ekstra witsuiker om oor te sprinkel
  • 125 ml gevlokte amandels, gerooster in die oond

Verhit oond tot 160 °C. Sif koekmeel, mielieblom en sout saam. Klits botter en suiker tot lig en romerig. Voeg meel by en vou deur tot net gemeng. Voer ’n ronde pan van 30 cm met
bakpapier uit en druk die deeg in die pan vas. Gebruik ’n vurk en verdeel die sirkel in 8 segmente deur gaatjies tot op die bodem te druk. Sprinkel ’n dun lagie suiker oor. Bak vir 40 – 60 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor met bloubessie-konfyt, geroosterde amandels en ekstra vars bloubessies.