Basiese sponskoek

Dit bevat geen rysmiddel soos bakpoeier nie. Die koek maak staat op die lug in die geklitste eierskuim om te rys.

genoeg vir 1 koek

  • 6 eiers
  • 260 g (325 ml) strooisuiker
  • 115 g (125 ml) botter, gesmelt
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 260 g (460 ml) koekmeel

Verhit oond tot 180 °C. Plaas eiers en suiker in elektriese menger se bak en plaas op pot met kookwater. Klits met draadklitser tot eiermengsel begin louwarm raak – toets met jou vingerpunt. Plaas bak in menger en klits 8-10 minute by hoë spoed tot dik skuimmengsel vorm. Voeg botter, vanielje en meel by eiermengsel en vou versigtig in met slaplemmes. Gooi mengsel in pan of panne wat goed gespuit is met kleefwerende kossproei (kyk by elke variasie watter en hoeveel panne jy nodig het). Bak 25-30 minute of tot goudbruin en gaar. 

Caipirinha-koek

Jou pan: 3 x 20 cm- ronde losboom-panne

genoeg vir 1

  • 1 x basiese sponskoek-resep
  • 3 lemmetjies se sap en gerasperde skil
  • 100 ml cachaça- of donker rum
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 125 ml water

VERSIERSEL

  • 500 g (595 ml) strooisuiker
  • 125 ml water
  • 6 eiergele
  • 500 g (545 ml) botter, by kamertemperatuur
  • 5 ml groen koskleursel
  • 100 g pistasieneute, fyngekap
  • 100 g mentsjokolade, gerasper
Bak sponskoek in aangewese panne. Kook sap en skil, rum, suiker en water 5 minute saam of tot stroop met 1/3 verminder het. Verwyder koeke uit oond en verdeel stroop tussen koeke. Laat afkoel en keer uit. Verdeel elke koek in twee lae met riffelrandmes.

VERSIERSEL: Bring suiker en water tot kookpunt. Kook stroop 5 minute. Gebruik ’n elektriese menger en klits die eiergele tot lig. Hou aan klits terwyl warm stroop geleidelik bygegooi word. Klits tot mengsel kamertemperatuur bereik. Klits botter lepelsgewys by en hou aan klits tot romerig. Voeg kleursel by en meng deur. Plaas in yskas tot romerige mengsel vorm, so 30 minute. Plaas eerste koeklaag op bord en skep 1/6 van versiersel bo-op. Plaas tweede koeklaag bo-op en skep nog 1/6 versiersel bo-op. Herhaal tot al die koeklae op is. Eindig met versiersel. Sprinkel neute en sjokolade bo-oor koek. Sit voor.