Besluit self of jy plat tertjies (soos op die foto) wil hê, toe tertjies of tertjies wat in ’n muffinpannetjie gebak is. Ek het nogal van die onafgeronde effek van die plat tertjies gehou - al wat kan gebeur, is dat die kaas by van hulle kan uitloop. Genoeg vir 12 tertjies.

  • 2 x 100 g camembert-kaas
  • 6 takkies vars tiemie
  • 300 g skilferkorsdeeg
  • geklitste eier om deeg mee te smeer

Sny die camembert-kaas in blokke. Haal die blare van die tiemietakkies af. Maak die kaas effens nat met ’n bietjie water en druk die gesnyde kant in die vars tiemie. Druk 12 sirkels van die deeg met ’n koekiedrukker uit, groot genoeg om die kante van die kaas te bedek. Smeer die rante van die deeg met die geklitste eier. Sit die kaas in die middel van die deeg en vou toe. Bak teen 220 °C vir ongeveer 15 minute - tot die deeg mooi bruin en gaar is. Sit warm voor. Ek stel voor julle drink ystee daarmee saam.