genoeg vir 24

STROOP

  • 400 g (500 ml) suiker
  • 180 ml water
  • 50 ml gouestroop
  • sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

DEEG

  • 300 g (540 ml) koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 30 ml botter, gesmelt
  • 2 groot eiers, geklits
  • sonneblomolie vir diepbraai

Deeg

Plaas meel, bakpoeier, sout en gesmelte botter in menger se bak en meng met die K-spaan. Voeg terwyl menger loop die geklitste eiers geleidelik by tot ’n sagte deeg vorm. Verhoog die mengspoed en knie vir 2 minute. Laat rus in yskas vir 1 uur.

Stroop

Bring suiker, water en gouestroop tot kookpunt in ’n middelslagpot. Kook vir 5 minute. Verwyder van hitte en voeg suurlemoensap en -skil by. Hou eenkant. Maak die strikdasse: Rol deeg tot sowat 2 mm dik op ’n meelbestrooide werkvlak uit. Sny in repe van 2 cm breed en elke reep in stukke van 4 cm lank. Maak ’n snit van sowat 1 cm in die middel van elke reep. Trek die een punt van die deeg deur die opening om ’n “strikdas” te vorm. Verhit olie tot warm in ’n groot pot en diepbraai strikdasse vir ’n minuut of twee tot goudbruin. Lig strikdasse met ’n gaatjieslepel uit olie en dreineer op kombuispapier. Dompel dan in warm suikerstroop vir ’n paar sekondes. Laat oortollige stroop afdrup en hou eenkant. Sit voor met balle roomys.