Blaardeeg-basis

  • 1 vel gekoopte blaardeeg
  • 1 eetlepel gesmelte botter

Verhit jou oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat uit met waspapier. Sny die blaardeeg in ’n sirkel sowat 20 cm in deursnee. Druk gaatjies met ’n vurk in die deeg en smeer die gesmelte botter bo-op. Plaas nog ’n laag bakpapier bo-op die deeg en sit ’n bakplaat bo-oor. Dit sal sorg dat die deeg nie te veel rys nie. Bak die sirkel vir sowat 20 minute en haal die bakplaat en papier af. Bak vir nog 10  minute. Haal uit en laat
afkoel.


Choux-pasta

(ongeveer 36)

  • 250 ml kookwater
  • 100 g botter
  • 130 g meel
  • 1 ml sout
  • 4 eiers

Plaas die kookwater en die botter in ’n kastrol en verhit tot die botter gesmelt is. Voeg die meel en sout by sodra dit vinnig begin kook, en roer met ’n houtlepel totdat ’n pasta vorm wat nie meer aan die kant van die kastrol vaskleef nie. Verwyder dit dan van die stoof en laat dit staan vir sowat 5 minute. Voeg die eiers een vir een by en klop baie goed met ’n houtlepel ná elke byvoeging. Gebruik ’n spuitsak of skep teelepels vol op ’n gesmeerde bakplaat. Bak vir 35-40 minute in ’n oond teen 200 °C. Haal uit oond en sny ’n klein gaatjie met ’n skerp mes aan die kant van elke balletjie sodat die stoom kan ontsnap. Plaas vir 5 minute terug in die oond sodat dit kan uitdroog en nie sag word nie. Verwyder dit uit die oond en laat dit afkoel. (Jy kan die balletjies in ’n lugdigte houer hou tot jy die piramide moet bou.) As jou choux-balletjies sag word, kan jy dit weer vir so 5 minute in ’n warm oond sit om bros te word. Vul elke balletjie met die vulsel en doop dit in die karamel. Begin nou jou piramide bou. Die karamel sal sorg dat die balletjies aan mekaar vassit. Versier met blomme of blare onder om die rand van die piramide.

Vulsel

  • 6 eiergele
  • 125 ml suiker
  • 125 ml meel, gesif
  • 500 ml melk
  • 45 ml botter
  • 5ml vanielje-geursel
  • 30 ml brandewyn (opsioneel)
  • knippie sout

Meng die eiergele in jou elektriese menger. Voeg die suiker bietjie vir bietjie by. Klits tot lig en romerig. Klits die meel by. Verhit die melk - maak net seker dat die melk nie kook nie. Voeg die warm melk in ’n dun straaljie by (maar hou ½ koppie eenkant indien jy die vulsel moet verdun) en klits goed. Gooi die mengsel terug in ’n kastrol en hou aan met roer tot die vulsel dik is. As die vulsel te dik is, kan jy van die melk byvoeg wat jy eenkant gehou het. Verwyder van die hitte en voeg die botter eetlepel vir eetlepel by. Klits goed ná elke byvoeging. Geur met sout, vanielje en die brandewyn. Laat dit afkoel.

Karamel

• 500 ml suiker
• 150 ml water
• 30 ml gouestroop

Plaas al die bestanddele in ’n kastrol en bring dit tot kookpunt oor ’n lae hitte. Laat die stroop kook tot dit ’n mooi karamel-kleur het - dit duur sowat 45 minute.