maak 1 tert van 25 cm

KORS

  • 155 g (170 ml) botter, in blokkies gesny
  • 280 g (500 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol
  • 30 ml kakaopoeier
  • 45 ml versiersuiker koue water

VULSEL

  • 300 g donkersjokolade
  • 200 g (220 ml) botter
  • 3 eiers
  • 1 eiergeel
  • 60 g (70 ml) strooisuiker

Maak eerste die kors: Plaas botter, meel, kakao en versiersuiker in die bak van ’n elektriese menger. Pols by hoë spoed tot fyn tekstuur. Terwyl menger loop, gooi koue water geleidelik by tot alles in een bal saamkom. Laat rus deeg in yskas vir 15 minute. Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel ekstra meel op werkvlak en rol deeg tot 3 mm dik uit. Voer ’n losboom-quichepan van 25 cm in deursnee met deeg uit en sny deegrande netjies af. Sit terug in yskas vir 10 minute. Voer kors met bakpapier uit en vul dit met rou bone of ryskorrels. Bak vir 10 minute. Haal uit oond en verwyder rys of bone saam met bakpapier. Maak nou die vulsel: Smelt sjokolade en botter saam in bak wat oor pot met pruttende water pas. Moenie dat die bak aan die water raak nie. Verwyder van hitte. Klits eiers, eiergeel en strooisuiker in aparte bak tot lig en skuimerig. Terwyl menger loop, gooi gesmelte sjokolade by. Klits tot glad. Skep mengsel in kors en bak vir 10 minute. Haal uit oond en laat afkoel. Verwyder rand van pan en sit voor.