Kook stylvol, eet bekostigbaar

Ek is op ’n missie om elke kombuis in die land oor te neem en almal aan die kook te kry! Oor die volgende paar weke wil ek vir SARIE-lesers wys dat jy elke aand vir net R150 (ja, regtig, nie net omdat dit goed klink nie!) vir jou gesin van vier goeie kos op die tafel kan sit.

Ek gaan elke dag ’n resep met julle deel wat ek met net R150 of minder gemaak het. Goeie kos beteken nie duur bestanddele nie, nee, dit beteken eerder goeie gaarmaakmetodes, slim inkopies doen en natuurlik die regte gereedskap gebruik. So kom sit aan en weet dat ons met goeie kos ons wêreld ’n beter plek kan maak! – Herman Lensing

Het jy verlede week se resepte gemis? Klik hier:

MAANDAG: Varkworsies en pere in mosterdsous

DINSDAG: Tamatie-en-basiliekruidsop

WOENSDAG: Warm caprese-spaghetti

DONDERDAG: Bone-en-frikkadelsop

VRYDAG: Skelviskoekies met mayonnaise

Roosmaryn-frikkadelle in tamatiesous op spaghetti

genoeg vir 4 persone 

Alles-in-een-pangereg. Die tamatiesous vorm soos die frikkadelle gaar word. Eenvoudig hemelse trooskos!

  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 x 250 g-pakkie spek, fyngekap
  • 500 g maer maalvleis
  • 2 eiers
  • 2 takkies roosmaryn, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 ml rooiwyn
  • 1 x 200 g-blik tamatiepasta
  • 1 x 400 g-blik tamaties
  • 1 x 400 g-pak spaghetti
  • 50 g parmesaan, fyngerasper

Metode:

Verhit die oond tot 220 °C. Meng die ui, knoffel, spek, maalvleis, eiers en roosmaryn in ’n groot mengbak. Geur goed met sout en peper.

Vorm frikkadelle so groot soos jy verkies en pak dit in ’n diep oondroosterbak.

Meng die rooiwyn, tamatiepasta en geblikte tamaties saam. Gooi bo-oor die frikkadelle.

Plaas in die oond en bak 15–20 minute of tot die frikkadelle gaar is. Terwyl die frikkadelle bak, kook die spaghetti volgens die aanwysings op die pak. Dreineer en sit warm saam met die frikkadelle en parmesaan voor.

Wenk: Varkvleis is een van die meer bekostigbare vleissoorte op ons winkelrakke. Vervang bees- of lamsmaalvleis met varkmaalvleis – ek gebruik soms die helfte vark en die helfte bees.

Herman Lensing het Le Creuset se splinternuwe Provence-reeks gebruik om stylvol te kook.

Klik hier om Le Creuset se webtuiste te besoek vir meer inligting.