Kook stylvol, eet bekostigbaar

Ek is op ’n missie om elke kombuis in die land oor te neem en almal aan die kook te kry! Oor die volgende paar weke wil ek vir SARIE-lesers wys dat jy elke aand vir net R150 (ja, regtig, nie net omdat dit goed klink nie!) vir jou gesin van vier goeie kos op die tafel kan sit.

Ek gaan elke dag ’n resep met julle deel wat ek met net R150 of minder gemaak het. Goeie kos beteken nie duur bestanddele nie, nee, dit beteken eerder goeie gaarmaakmetodes, slim inkopies doen en natuurlik die regte gereedskap gebruik. So kom sit aan en weet dat ons met goeie kos ons wêreld ’n beter plek kan maak! – Herman Lensing

Het jy Maandag se resep gemis? Klik hier:

MAANDAG: Varkworsies en pere in mosterdsous

Tamatie-en-basiliekruidsop

genoeg vir 4 

Die lekker van dié resep is die tamaties wat jy in die oond rooster. Maak seker jy gebruik klein tamaties soos rosa of roma. Hoe kleiner die vrug, hoe geuriger smaak dit.

  • 12 (500 g) tamaties, gehalveer
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 250 ml rooiwyn
  • 1 x 400 g-blik kersietamaties
  • 1 x 250 ml-houer room
  • 1 hand vol basiliekruid
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

Verhit die oond tot 220 °C. Plaas die tamaties op ’n bakplaat en sprinkel die knoffel en olyfolie oor. Rooster 10-12 minute of tot sag.

Verhit nog bietjie olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui by en braai 1 minuut.

Voeg die gebakte tamaties, rooiwyn en ingemaakte tamaties by.

Bring tot kookpunt en laat 10 minute prut. Voeg die room by en prut nog 5 minute. Voeg die basiliekruid by. Geur goed met sout en peper. Puree in ’n voedselverwerker tot ’n stukkerige of gladde sop, nes jy verkies. Sit warm voor met brood van jou keuse.

Wenk: As jy ’n gladde tamatiesop verkies, kan jy die sop deur ’n sif druk om van al die skille en pitte ontslae te raak.

Herman Lensing het Le Creuset se splinternuwe Provence-reeks gebruik om stylvol te kook.

 

Klik hier om Le Creuset se webtuiste te besoek vir meer inligting.