Kook stylvol, eet bekostigbaar

Ek is op ’n missie om elke kombuis in die land oor te neem en almal aan die kook te kry! Oor die volgende paar weke wil ek vir SARIE-lesers wys dat jy elke aand vir net R150 (ja, regtig, nie net omdat dit goed klink nie!) vir jou gesin van vier goeie kos op die tafel kan sit.

Ek gaan elke dag ’n resep met julle deel wat ek met net R150 of minder gemaak het. Goeie kos beteken nie duur bestanddele nie, nee, dit beteken eerder goeie gaarmaakmetodes, slim inkopies doen en natuurlik die regte gereedskap gebruik. So kom sit aan en weet dat ons met goeie kos ons wêreld ’n beter plek kan maak! – Herman Lensing

Het jy Maandag se resep gemis? Klik hier:

MAANDAG: Varkworsies en pere in mosterdsous

DINSDAG: Tamatie-en-basiliekruidsop

WOENSDAG: Warm caprese-spaghetti

Bone-en-frikkadelsop

genoeg vir 6

Ek het dié sop die eerste keer vir SARIE gemaak. Die terugvoer was ongelooflik en ek moet erken, dis een van die geurigste soppe wat ek ken.

  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 brandrissie, fyngekap
  • 500 g boerewors, uit derm gehaal
  • 25 ml gerookte paprika
  • 1 x 400 g-blik tamaties
  • 500 ml hoenderaftreksel
  • 2 x 400 g-blikke bone van jou keuse, gedreineer
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en rissie by. Braai 5-8 minute vinnig of tot die ui begin verbruin.

Vorm happiegrootte frikkadelle uit die boereworsvleis en voeg by uie. Braai 1 minuut. Voeg die paprika, tamaties en aftreksel by. Verlaag die hitte en laat stadig kook tot die vloeistof met ’n derde verminder het, sowat 10-15 minute.

Voeg die bone by en bring weer tot kookpunt. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

Wenk: Spoel geblikte bone altyd in ’n meelsif onder lopende water af. Dit verwyder die styselagtige vloeistof waarin dit geblik is.

Herman Lensing het Le Creuset se splinternuwe Provence-reeks gebruik om stylvol te kook.

Klik hier om Le Creuset se webtuiste te besoek vir meer inligting.