Gebruik 6 rooi brandrissies vir 6 mense. Breek 200 g Mozzarellaballe; dit lyk lekkerder as dit gebreek is. Gebruik 500 g pasta en kook volgens die aanwysings op die pak. Terwyl die pasta kook, breek die Mozzarella en sny die brandrissies in stukkies. Breek ’n hand vol vars basiliekruid in stukke. Meng nou die kaas, brandrissie en basilie saam met sowat 100 ml olyfolie. Dreineer die pasta en meng onmiddellik met laasgenoemde bestanddele. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Die kaas sal effens smelt wanneer dit met die warm pasta gemeng word. Sit onmiddellik voor.

Hoe rooster ek brandrissie?
As jy ’n brander het, is dit maklik. Maar dit is nie noodsaaklik vir die rooster van die rissies nie. Plaas die rissies op ’n bakplaat en brand al die kante met die brander. Die alternatief is om die rissies onder die rooster in die oond te sit en dit om te draai sodat dit al kante gerooster word. Sit die rissies in ’n bakkie en maak dit met kleefplastiek toe. Die rissies sal begin sweet en ná sowat 20 minute kan jy die velletjies maklik verwyder. Kap op en gebruik in brandrissie-en-mozzarella-pasta.