Broodpoedingkoek Foto Michael le Grange

Die flop

My piesangbrood is heeltemal te krummelrig. Wat maak ek nou daarmee?

Die antwoord: Broodpoedingkoek

Dié resep het laas jaar in my jongste kookboek, 30, verskyn as oplossing vir hierdie einste probleem. Ek belowe jou, jy gaan nie spyt wees oor jou piesangbrood-flop nie.

genoeg vir 1 koek

8 croissants

1 x 300 g-piesangbrood

1 liter melk

5 eiers

200 g (250 ml) suiker

10 ml kaneel

100 g pekanneute, gekap

100 g donkersjokolade, grofgekap

500 ml vanieljevla vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C. Breek croissants in kleiner stukke en plaas in ’n groot mengbak. Krummel piesangbrood in kleiner stukke en voeg by croissants. Voeg res van die bestanddele by en meng deur. Maak seker alles is goed bedek. Spuit ’n Bundtpan met ’n volume van 3 liter met kleefwerende kossproei en skep mengsel in die pan. Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin en gestol. Keer uit op ’n dienbord en giet die vla oor. Sit voor.

Kaaskoek-roomys Foto Michael le Grange

Die flop

Ek het kaaskoek probeer bak, maar die eindproduk was baie krummelrig. Dalk was dit te lank in die oond. Dis duur, help asseblief!

Die antwoord: Kaaskoek-roomys 

Die wonderlike ding van kaaskoek is al bak jy dit te lank, is al die smake reeds vasgevang. Maak gebruik daarvan.

genoeg vir 10

2 liter vanieljeroomys

300 g gebakte kaaskoek, met kors en al gekrummel

200 g sjokoladebrosbrood (shortbread), gekrummel

Plaas vanieljeroomys in groot mengbak en maak sag met groot metaallepel – dit moet nie heeltemal gesmelt wees nie, maar soos saggeklopte botter lyk. Voeg kaaskoek by roomys en meng deur. Skep mengsel in groot vrieskasbestande bak en smeer gelyk. Plaas in vrieskas vir 2-3 uur of tot hard. Skep balle roomys in ’n bord en sprinkel brosbroodkrummels oor. Sit voor.

Foto Michael le Grange

Die flop

Die koek het in die pan vasgesit en gebreek met die uitkeerslag.

Die antwoord: Krummelkoek

Gebruik die krummels vir ’n . . . krummelkoek. En as jy nie ’n flop het om in te span nie, kan jy dit met gekoopte sjokoladesponskoek maak.

genoeg vir 1

4 x 30 cm-sjokoladesponskoeke

200 g (250 ml) witsuiker

250 ml water

30 ml haselneutlikeur

2 x 365 g-blikke karamelkondensmelk

200 g donkersjokolade

100 ml room

Voer ’n 22 cm-losboompan met bak-papier uit. Krummel koeke in voedsel-verwerker. Bring suiker, water en likeur tot kookpunt en laat kook 5 minute. Laat suikerstroop afkoel. Skep karamel in spuitsak met 5 mm-skerprandtuit. Meet 125 ml koekkrummels af – sodat elke laag perfek lyk – en gooi in pan. Gebruik vingerpunte en druk krummels stewig op bodem vas. Sprinkel ’n bietjie suikerstroop oor. Spuit kondensmelk in spiraal oor krummels (jy hoef nie die hele laag te bedek nie, want nog lae volg). Herhaal nou die proses tot alles opgebruik is en eindig met ’n laag koekkrummels. Plaas bakpapier bo-op koek en bedek met kleefplastiek. Plaas iets swaars soos blikkies kos bo-op en weeg af in jou yskas (jy wil alles saampers) vir sowat 2 uur. Smelt sjokolade en room saam oor lae hitte tot gladde sous vorm. Keer “koek” uit pan en sit voor met sjokoladesous.

Brownie-malvapoeding Foto Michael le Grange

Die flop

My gesin is mal oor brownies, maar soms gaan dinge dol en bak ek dit te lank. Dis dan oneetbaar droog.

Die antwoord: Brownie-malvapoeding

Die heel lekkerste van malvapoeding is die sous. Vat dus jou droë brownies, voeg nog bestanddele by, bak weer en laat die res aan die sous oor.

genoeg vir 6

45 ml sagte botter

200 g (250 ml) strooisuiker

2 eiers

280 g (500 ml) koekmeel

10 ml koeksoda

190 ml melk

1 ml sout

45 ml appelkooskonfyt

30 ml bruinasyn

200 g sjokolade-brownies, fyngekrummel

Sous

1 x 365 g-blik ingedampte melk

200 g (250 ml) suiker

5 ml karamelgeursel

35 ml botter

Verhit oond tot 180 °C. Voer broodpan van 20 x 12 cm met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Klits botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg eiers by en klits goed. Voeg meel, koeksoda, melk, sout en konfyt by en meng goed. Voeg asyn en brownies by en meng. Gooi mengsel in pan en bak vir 25-30 minute of tot toetspen skoon uitkom. Terwyl koek bak, kook al die bestanddele vir die sous saam vir 2 minute. Haal gaar koek uit oond. Steek vol gate met sosatiestok en gooi sous oor. Laat staan tot sous goed ingetrek het. Sit koek warm voor met vanieljevla.

Sjokoladefudge Foto Michael le Grange

Die flop

My oond is al weer onvoorspelbaar en my vanieljekoekies het heeltemal te donker en kliphard uitgekom.

Die antwoord: Sjokoladefudge

Sit voor met goeie koffie en bederf jou gaste met heerlik anderste fudge.

genoeg vir 24

200 g vanieljekoekies

80 g botter, gesmelt

385 g-blik kondensmelk

80 ml gouestroop

20 g botter

200 g donkersjokolade

Maak koekies fyn in voedselverwerker en voeg botter by. Meng saam tot die tekstuur van klam seesand (voeg nog botter by as dit nodig is). Voer koekpan van 20 x 20 cm met bakpapier uit. Gooi krummels in pan en druk stewig op bodem vas met vingerpunte. Plaas kondensmelk, stroop en botter in middelslagpot oor lae hitte. Roer tot mengsel kookpunt bereik. Hou aan roer en laat kook vir 8-10 minute tot ligte karamel vorm (soos koffie met melk). Gooi mengsel oor krummels en smeer gelyk. Laat stol in yskas vir 1 uur. Smelt sjokolade in glasbak oor kastrol met water. Moenie dat die bak aan die water raak nie. Gooi gesmelte sjokolade oor karamel en laat stol weer in yskas. Keer uit en sny met skerp mes in blokkies. Opsioneel: Jy kan fyn sout oorsprinkel vir die voorsit.

WENK:

As jy kaaskoek bak, plaas koekpan in ’n oondpan en vul met genoeg water sodat dit gelyk is met die bokant van die kaaskoek. Die stoom wat vorm, keer dat die koek uitdroog en krummelrig raak. Vou ’n dubbellaag foelie om die losboompan sodat water nie na binne lek nie