(4 porsies)

  • 1 ui, fyngekap
  • 1 rooi soetrissie, in klein blokkies gesny
  • 15 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • handvol fyngekapte pietersielie
  • 12 swart olywe, ontpit
  • sowat 15 kersietamaties
  • 8 eiers
  • 100 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Voorverhit jou oond tot 180 °C. Verhit die olyfolie effens in die pan waarin jy jou frittata gaan maak en voeg die botter by. Smelt die botter en braai die ui en soetrissie tot sag. Klits die eiers saam met die room en geur met sout en peper. Roer die gekapte pietersielie by. Gooi die eiermengsel in die pan en voeg die kersietamaties en swart olywe by. Roer nou effens (maar moenie roereier maak nie!). Plaas die pan in die warm oond en hou die deur effens oop. Die frittata sal sowat 15 minute neem om gaar te word en te stol. Haal uit en sny in skywe.

Sit voor saam met
Groenslaai met skywe vars pecorinokaas met net olyfolie oor.