(10 – 12 porsies)

  • 30 ml louwarm water
  • 125 ml louwarm melk
  • 30 ml strooisuiker
  • 20 ml heuning
  • 80 g botter, gesmelt
  • 2 eiers
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 350 g (625 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol
  • 10 ml karamelgeursel
  • 350 g fudge
  • 125 ml room
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • kaneelsuiker (meng 200 g suiker met 20 ml fyn kaneel)

Plaas water, melk, suiker, heuning, botter, eiers, gis, koekmeel en geursel in elektriese menger. Klits op hoë spoed met mengspaan (K-beater) tot die hele mengsel in een bal saamkom. Sit deeg in skoon bak. Draai toe met kleefplastiek en laat rys 45 – 60 minute op ’n warm plek of tot dubbel die volume. Sprinkel meel op werkoppervlak, keer deeg uit en gebruik jou vingerpunte om deeg tot sowat 1 cm dik plat te druk. Druk met ’n ronde koekiedrukker van sowat 8 cm in deursnee sirkels uit. Vat ’n kleiner een van 2 cm en druk ’n gaatjie in die middel van elke groot deegsirkel. Plaas deegsirkels op ’n bakplaat wat met meel besprinkel is en laat rys op ’n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute.Terwyl deeg reis, plaas fudge en room in ’n kastrol en laat prut oor matige hitte tot fudge gesmelt is. Verhit intussen sonneblomolie tot warm en gooi deegsirkels in warm olie. Braai sowat 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker. Sit voor met fudge-sous.