(4 – 6 porsies)

  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 120 ml botter, gesmelt
  • hand vol kruisement, gekap
  • 8 snye brood, verwerk tot krummels in voedselverwerker
  • 600 g lamsribstuk (8 bene)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 ml rooiwyn
  • 60 ml olyfolie
  • 4 uie, grofgekap

Yorkshire-poeding

  • 285 ml melk
  • 115 g koekmeel
  • 3 eiers
  • sout
  • 300 ml sonneblomolie

Verhit oond tot 160 °C. Meng knoffel, botter, kruisement en broodkrummels totdat dit soos ferm, nat sand lyk. Sny met ’n skerp mes kepe in die vetkant van die lam. Geur goed met sout en swartpeper. Gebruik jou hande en druk die broodkrummelmengsel stewig vas op die vleis. Gooi wyn en olyfolie onderin oondroosterpan saam met uie. Plaas lam bo-op met kors na bo. Rooster vir 35 minute vir medium-gaar of langer soos jy verkies. Terwyl lam rooster, meng melk, meel, eiers en sout saam tot
gladde beslag. Laat rus vir 10 minute. Haal lam uit oond en verhoog hitte tot 200 °C. Verdeel sonneblomolie tussen 12 holtes van ’n standaard-muffinpan. Plaas in oond vir 15 minute of tot vuurwarm. Skep beslag in warm olie en bak vir sowat 30 minute tot opgepof en goudbruin. Sit lam terug in oond om weer warm te word. Sit voor met Yorkshire-poeding en pansous.