genoeg vir een 22 cm-tert

KORS

  • 1 pakkie tennisbeskuitjies, fyngerol
  • 100 g botter, gesmelt

VULSEL

  • 500 ml melk
  • 15 ml botter
  • 60 ml vlapoeier
  • 45 ml suiker

BOLAAG

  • 1 x 385 g-blik kondensmelk
  • 100 ml suurlemoensap
  • 1 x 60 g-blik grenadellapulp

Meng die bestanddele vir die kors saam en druk krummelmengsel vas op die bodem van ’n ronde tertbak van 22 cm in deursnee. Maak nou die vulsel: Plaas 400 ml melk en botter in ’n middelslagpot en verhit tot net onder kookpunt. Meng vlapoeier, suiker en res van melk saam tot ’n gladde mengsel. Gooi koue mengsel by warm melk terwyl jy klits – jy kan ’n ballonklitser of elektriese klitser gebruik. Verhit oor lae hitte tot kookpunt terwyl jy heeltyd roer. Laat prut tot verdik en gaar, sowat 5-8 minute. Gooi warm mengsel in uitgevoerde tertbak en smeer gelyk. Laat afkoel tot gestol. Klits die bestanddele vir die bolaag saam en laat staan eenkant tot vla heeltemal koud is. Skep die kondensmelkmengsel oor en smeer gelyk. Plaas in yskas vir 2-3 uur. Sit voor.