(6 porsies)

  • 1 groot (450 g) eiervrug
  • olyfolie om die eiervrug in te braai
  • 1 blik rooibone, gedreineer
  • 1 blik botterbone, gedreineer
  • 1 blik lensies, gedreineer
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 250 g sampioene, in skywe gesny
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 ui, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 300 ml Griekse of Bulgaarse jogurt
  • 3 eiers
  • 200 g fetakaas, gekrummel

Sny die eiervrug in skywe en plaas in ’n bak water met sout. Laat staan vir sowat 30 minute - dis net om seker te maak die eiervrug is nie bitter nie. Verhit jou oond tot 180 °C. Verhit sowat 2 eetlepels olyfolie in ’n kastrol en braai die ui en knoffel saam tot sag en deurskynend. Voeg die geblikte tamaties, sampioene en bone by. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en laat prut vir sowat 10 minute. Verhit intussen nog olyfolie in ’n pan en braai die eiervrugskywe weerskante tot bruin. Onthou net, eiervrug is soos ’n spons wat die olyfolie behoorlik opslurp. Dreineer die eiervrug op kombuispapier. Gebruik ’n oondbak van sowat 30 cm groot en plaas van die eiervrugskywe onderin. Gooi van die bone-mengsel bo-op en dan weer eiervrug. Gooi die laaste van die bone-mengsel bo-op. Klits die eiers en jogurt saam en gooi bo-oor. (Dis baie makliker en gesonder as om ’n witsous te maak.) Sprinkel die gekrummelde fetakaas oor en plaas in die warm oond. Bak die gereg vir sowat 45 minute tot mooi bruin.