genoeg vir een 22 cm-koek

  • 400 g (500 ml) suiker
  • 250 g (450 ml) koekmeel
  • 75 g (200 ml) kakaopoeier
  • 7,5 ml bakpoeier
  • 7,5 ml koeksoda
  • 5 ml sout
  • 2 eiers
  • 250 ml karringmelk
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 250 ml warm koffie
  • 60 ml gladde grondboontjiebotter
  • 115g (125 ml) ongesoute botter, gesmelt

VERSIERSEL

  • 125 ml gladde grondboontjiebotter
  • 115 g (125 ml) ongesoute botter, by kamertemperatuur
  • 325 g (625 ml) versiersuiker, gesif
  • 75 g (200 ml) kakao, gesif
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 135 ml room

Verhit oond tot 180 °C. Spuit 3 ronde koekpanne van 22 cm in deursnee met kleefwerende kossproei en voer uit met bakpapier. ( Jy kan dit ook in 2 panne bak en elke koek in 2 lae verdeel.) Plaas droë bestanddele vir beslag in groot bak. Meng eiers, karringmelk en vanielje en voeg by droë bestanddele. Meng deur. Meng warm koffie, grondboontjiebotter en botter saam tot glad en sag. Voeg by beslag en meng goed. Verdeel beslag tussen koekpanne en plaas in warm oond. Bak 35-40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal koeke uit oond en laat 10 minute in die panne afkoel. Keer koeke uit op afkoelrak en laat heeltemal afkoel. Versiersel Klits grondboontjiebotter en botter saam tot lig en romerig met ’n elektriese klitser. Voeg versiersuiker en kakao geleidelik by en meng tot ’n stywe mengsel vorm. Voeg vanielje en room by. Meng tot glad en romerig. Gebruik ’n skerp mes en sny elke koek in 2 lae as jy 2 panne gebruik het. Plaas eerste laag op opdienbord en smeer of spuit van versiersel eweredig oor. Herhaal tot al die lae bo-op mekaar gestapel is en eindig met versiersel.