Prinses Charlene van Monaco:

“Ek het soveel herinneringe wanneer ek aan my ma se kos dink. Die mieliepap wat sy gemaak het voor my oefensessies douvoordag, en om dan die middag huis toe te kom en beesstertbredie of potjiekos wag. As ek beesstertbredie ruik, is ek dadelik terug by my ouerhuis. Kaneel laat my weer dink aan koue aande en hoe ek melkkos maak . . . dis pure nostalgie en beslis my trooskos. En natuurlik pap en wors, met ryspoeding vir nagereg.”

Herman maak: Beesstert met gremolata

Genoeg vir 6

  • 16 stukke (sowat 1,7 kg) beesstert
  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 45 ml olyfolie plus ekstra vir speserye
  • braai 2 uie, grofgekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml vinkelsaad
  • 20 ml komynsaad
  • 20 ml fyn koljander
  • 2 kaneelstokke
  • 1 liter beesaftreksel
  • 200 ml sjerrie
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Gremolata

  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 hand vol pietersielie, fyngekap
  • fyngerasperde skil van 3 suurlemoene

Verhit oond tot 180 °C. Rol beesstert-stukke in meel en skud ekstra meel af. Verhit olie in groot oondvaste pot en braai beesstert in sarsies tot goudbruin. Haal uit pot en hou eenkant. Gooi ekstra skeut olie in pot en voeg uie, knoffel en speserye by. Roerbraai tot uie goudbruin is. Voeg gebraaide beesstert by en meng deur. Gooi aftreksel en sjerrie by en geur goed met sout en peper. Maak pot toe en plaas in warm oond. Bak vir sowat 2 uur of tot vleis van been loskom. (Maak so nou en dan seker daar is genoeg vloeistof in die pot, en vul aan met water as dit min raak.) Terwyl vleis bak, meng bestanddele vir die gremolata saam. Verwyder gaar bredie uit oond en skep in opdienbak. Sprinkel gremolata oor en sit voor.

Kry Candice Swanepoel, Behati Prinsloo en Demi-Leigh Nel-Roberts se resepte in die nuutste SARIE-uitgawe, nou op die winkelrakke!