As jy ooit vir Sondagmiddagete opdaag by Borcherdstraat op Upington, kan jy maar weet my ma se pampoenkoekies sal op die tafel wees. Ek gee die karamel ’n moderne smaak met miso-pasta, ’n Oosterse bestanddeel gemaak van gefermenteerde sojabone. Laat dit uit as jy dit nie kry nie.

genoeg vir 12 koekies

• 480 g (500 ml) gaar pampoen

• 280 g (500 ml) koekmeel

• 20 ml bakpoeier

• 2 eiers

• 10 ml anyssaad

• sout en varsgemaalde swartpeper

• sonneblomolie vir diepbraai

• 100 g kaneelsuiker

KARAMELSOUS

• 200 g (250 ml) suiker

• 75 g (80 ml) botter

• 100 ml water

• 250 ml room

• 10 ml miso-pasta (opsioneel)

Druk pampoen fyn met aartappeldrukker. Voeg koekmeel, bakpoeier, eiers en anys by. Meng deeglik met houtlepel. Geur goed met sout en peper. Verhit olie vir diepbraai in groot pot – die olie moet minstens 10 cm diep wees. Moenie olie te warm maak nie. Gebruik ’n roomyslepel, doop dit in die warm olie en skep ’n lepel vol pampoenbeslag. Laat dit uit die roomyslepel in die olie val. Hou aan tot die pot se oppervlak vol is. Plaas deksel op pot en braai 5 minute. Maak pot oop en draai balle om. Plaas weer deksel op pot. Herhaal tot al die koekies goudbruin en gaar is (dit sal sowat 15 minute duur). Stel plaat se temperatuur laer as die olie te warm raak, anders gaan balle brand voor dit gaar is binne. Dreineer op handdoekpapier en rol in kaneelsuiker.

KARAMELSOUS

Plaas suiker, botter en water in middelslag-pot. Bring tot kookpunt en roer oor lae hitte met houtlepel tot suiker gesmelt het. Verhoog hitte en kook tot goue karamel vorm, 8–10 minute. Voeg room en miso by. Meng en bring weer tot kookpunt. Laat sous afkoel tot louwarm en gooi oor koekies. Sit voor.