Bakker 1: Herman Lensing, SARIE se kosredakteur.

Bakker 2: Yolani Abrahams, SARIE Voorbladgesig 2017, asook patisseriesjef en mede-eienaar van ’n bakkery, Kole & Deeg, op Ceres.

Herman Lensing en Yolani Abrahams FOTO: Willem Lourens

Die uitdaging: Bak vir ons iets wat wys wat jý kan doen. Onse Herman móét altyd iets eksoties kies. Vandag is dit ’n koek met ’n delikate sitrusgeur, deurweek met warm rum-stroop. ’n Tradisionele Franse rum baba (babas au rhum). Yolani bak Belgiese gis-wafels met bloublessies – bros en lig soos ’n wolkie!

Herman se Rum Baba (lemoen-giskoek) FOTO: Willem Lourens

Herman se Rum Baba (lemoen-giskoek) 

Die beslag lyk dalk min, maar jy moet geduldig wag tot die pan vol gerys het. Die koek is heerlik veerlig.

genoeg vir 1 koek

125 ml rosyntjies

350 g (625 ml) koekmeel

1 x 10 g-sakkie kitsgis

5 ml sout 50 g (60 ml) suiker

125 ml louwarm melk

4 eiers

115 g (125 ml) botter

STROOP:

310 ml water

100 g (125 ml) suiker

80 ml rum

125 ml lemoensap

skil van 2 lemoene, in repies gesny

vanieljevla vir voorsit

Plaas al die bestanddele vir die koek in elektriese menger se bak en klits by hoë spoed met mengspaan (K-beater) tot die hele mengsel in een bal saamkom. Plaas in skoon mengbak wat met olie gesmeer is. Laat mengsel op warm plek rys tot dubbel in volume, sowat 1 uur. Spuit ’n 30 cm-patroonpan (Bundt) met ’n volume van 2 liter met kleefwerende kossproei. Wanneer beslag klaar gerys het, gooi dit in pan en versprei eweredig. Plaas pan weer op warm plek en laat rys tot die mengsel die pan gevul het. Terwyl mengsel rys, verhit oond tot 180 °C. Plaas koek in oond en bak 30-35 minute of tot goudbruin en gaar. Terwyl koek bak, kook al die bestanddele vir die stroop saam. Haal koek uit oond en gooi warm stroop oor. Laat koel af en keer uit op opdienbord. Sit koek louwarm voor met vla. 

Yolani se Belgiese gis-wafels FOTO: Willem Lourens

Yolani se Belgiese gis-wafels 

Jy moet die beslag stadig laat rys om ’n lekker gis-smaak en veerligte tekstuur te kry.

genoeg vir 10

  • 180 ml louwarm melk
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 30 ml bruinsuiker
  • 245 g (440 ml) koekmeel
  • 15 ml mielieblom
  • 3 ml sout
  • 240 ml karringmelk
  • 90 ml botter, gesmelt
  • 1 groot eier
  • gerasperde skil van 1 lemoen
  • 1 x 170 g-houer bloubessies
  • roomys vir voorsit

Meng melk, gis en suiker. Laat staan op werkvlak tot oppervlak bedek is met ’n skuimlaag – sowat 40 minute. Plaas res van bestanddele behalwe bloubessies in groot mengbak en gooi gis-mengsel by. Klits tot gladde mengsel vorm. Maak bak toe met kleefplastiek en laat staan by kamertemperatuur tot dubbel in volume – sowat 2-3 uur. Voeg bloubessies by en meng liggies deur. Verhit wafelpan tot warm en spuit met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol van beslag in pan en braai 5-8 minute tot goudbruin en gaar. Hou gaar wafels warm in lou oond terwyl jy res van beslag braai. Sit voor met roomys van jou keuse.