(6 porsies)

  • 600 g ontbeende hoenderborsies (sonder vel), in blokkies gesny
  • 250 g repiespek, in klein blokkies gesny
  • 200 g hoender-maalvleis
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 10 g botter
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 ui, fyngekap
  • 250 g portabellini-sampioene, fyngekap
  • 50 ml fyngekapte pietersielie
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 2 x 400 g blaardeeg
  • 1 eier, geklits

Meng die hoenderborsies, spek, hoender-maalvleis en gerasperde suurlemoenskil saam. Smelt die botter in ’n pan en braai die ui en knoffel saam tot sag en deurskynend. Voeg die sampioene by en braai oor ’n lae hitte vir so 10 minute. Strooi nou die gekapte pietersielie oor en laat afkoel. Meng die afgekoelde mengsel met die hoendermengsel en geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Verhit jou oond tot 200 °C. Voer ’n gesmeerde broodpan van ongeveer 12 cm x 25 cm met een vel blaardeeg uit. Maak seker die blaardeeg hang oor die rand van die pan. Plaas die hoendermengsel in die pan. Vou van die blaardeeg oor die vleis. Verf die rand met die geklitste eier. Sny die tweede vel deeg groot genoeg om bo-op te pas. Met die orige deeg kan jy mooi patrone sny om die terrien te versier. Verf dié laag van die deeg ook met die geklitste eier. Plaas jou oondrak in die middel van die oond en bak in die voorafverhitte oond vir 15 minute. Verlaag dan die hitte na 180 °C en bak verder vir 1 - 1¼ uur. Laat afkoel in die pan voor jy dit uitkeer.

Iets anders
As jy nie blaardeeg wil gebruik nie, kan jy die broodpan met repies spek uitvoer. Bak dan jou terrien in ’n bain-marie (dis ’n oondbak gevul met water) vir sowat 1¼ uur.