Lam-en-koring-tagine

Dié Marokkaanse manier van bredie maak is ook die naam van die erdepot waarin dit gemaak word: een met ’n spitsdeksel. Jy kan ook ’n doodgewone ysterpot gebruik.

genoeg vir 6

10 ml fyn kaneel

20 ml vinkelsaad

10 ml fyn koljander

5 ml droë brandrissie

45 ml olyfolie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, gekap

1 kg kort lamskenkels

sout en varsgemaalde swartpeper

1 x 400 g-blik tamaties

200 ml rou koringkorrels

VIR VOORSIT

100 g amandelvlokkies

Plaas al die speserye in ’n vysel en maak lekker fyn met ’n stamper. Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pot of bak van tagine. Gooi ui en knoffel by. Braai 5 minute of tot dit begin verbruin. Voeg fyn speserymengsel by en braai 2 minute. Voeg lam by en braai nog 5 minute. Geur goed met sout en peper. Gooi tamaties en koring by, sit deksel op en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat kook 2 uur of tot lam van been afval. Sit voor met amandels.

Wenk:

Maak seker daar is altyd genoeg vog in die pot – gooi ekstra louwarm water by as dit nodig is.

Koringslaai met gebraaide nektarien

genoeg vir 6-8

200 g (250 ml) rou koringkorrels

10 ml sout

1 rooi-ui, fyngekap

20 ml kerriepoeier

30 ml suiker

30 ml rooiwynasyn

30 ml sojasous

1 hand vol vars koljander, gekap

sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

sout en varsgemaalde swartpeper

6 nektariens, gehalveer

50 ml olyfolie

Plaas koring en 10 ml sout in middelslag-pot. Gooi genoeg water by om koring meer as dubbel te bedek. Bring tot kookpunt en laat kook tot koring sag en gaar is, sowat 20-25 minute. Dreineer en laat afkoel. Meng uie, kerrie, suiker, asyn en sojasous. Voeg koljander, suurlemoensap en -skil by. Gooi bo-oor koue koring en meng deeglik. Geur goed met sout en swartpeper. Laat rus in yskas vir sowat 2 uur of oornag. Verhit ’n riffelpan tot vuurwarm, die rook moet letterlik daaruit draai. Smeer nektarienhelftes met olyfolie. Plaas in warm pan en braai tot goudbruin, sowat 3-5 minute per kant. Meng gebraaide perskes met koring. Sit voor.

Broodbakke

In Noord-Afrika kry jy ’n platbrood, genaamd lavash. Dis van meel en water en word op warm, oop vure gebak tot bros. Ek bak dit op ’n oondvaste bakkie sodat die brood soos ’n broodbakkie lyk.

genoeg vir 4

125 ml water

45 ml olyfolie

5 ml sout

280 g (500 ml) koekmeel

100 ml gebreekte koring

Plaas water, olyfolie en sout in elektriese menger met deeghaak. Gooi meel geleidelik by terwyl menger loop en meng tot stywe, kniebare deeg. Knie vir 5-8 minute of tot deeg gladde voorkoms het. Jy kan die deeg ook met die hand knie. Plaas deeg in bak wat met olie gesmeer is en bedek. Laat rus deeg vir 25 minute. Dit gaan nie rys nie, maar die rus laat die gluten in die deeg ontspan sodat jy dit dunner kan uitrol. Verhit oond intussen tot 220 °C. Sprinkel meel op werkvlak. Verdeel deeg in 4 porsies. Rol uit tot sowat 5 mm dik. Sprinkel gebreekte koring oor deeg en rol in deeg vas. Plaas 4 oondvaste bakkies onderstebo op ’n bakplaat. Spuit bakkies en bakplaat goed met kleefwerende kossproei. Plaas uitgerolde deeg bo-oor bakkies sodat die deeg wat oorhang eweredig op die bakplaat rus. Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en haal versigtig af.