Vetkoek met pruimkonfyt

Neem jou tyd met die deeg, jy gaan die verskil kan proe.

genoeg vir 8

10 g kitsgis

10 g sout

300 ml louwarm water

45 ml heuning

5 ml komynsaad

500 g (890 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol

olie vir smeer en diepbraai

Plaas gis, sout, water, heuning en komyn in middelslag-mengbak. Meng met draadklitser. Voeg meel geleidelik by en meng verder tot stywe, kniebare deeg vorm. Keer uit op skoon werkvlak en knie tot deeg glad en ferm is. Sit in skoon bak wat met bietjie olie gesmeer is. Laat rys op warm plek tot dubbel die volume. Keer uit op meelbestrooide werkvlak en druk deeg plat tot sowat 1,5 cm dik. Sny reghoekige stukke deeg van sowat 10 x 4 cm met skerp mes uit. Plaas op houtplank wat met nog meel besprinkel is en laat rys op warm plek tot dubbel die volume, sowat 20 minute. Terwyl deeg rys, verhit olie tot medium-warm – as dit te warm is, sal die vetkoek brand voor dit deurgaar is. Diepbraai uitgerysde stukke deeg 8-10 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Sit voor met botter en konfyt.

Pruimkonfyt

genoeg vir 1 kg 

1,2 kg pruime, gesnipper

1,2 kg suiker

Plaas bestanddele in ’n groot pot en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat 25-30 minute stadig prut of tot dikkerige konfyt vorm. Om te toets of dit reg is, drup bietjie van die stroop op ’n koue bord en trek jou vinger daardeur; as dit stadig terugvloei in die opening in, is dit reg. Sit voor met vetkoek.


 Pruim-en-amandeltert

Noem hierdie sommer ’n Afri-Frans-weergawe. Die spesifieke mengsel van amandels, meel en botter is klassiek Frans en maak dié tert spesiaal.

genoeg vir 6

1 x 400 g-rol blaardeeg, ontdooi

125 ml botter

125 ml strooisuiker

1 eier

200 g (250 ml) fyn amandels

65 ml koekmeel

8 pruime, gehalveer en ontpit

Verhit oond tot 200 °C. Rol blaardeeg op meelbestrooide oppervlak oop. Gebruik koekroller en rol deeg tot sowat 3 mm dik uit. Sny in netjiese reghoek. Sny reg rondom 4 stroke van 5 mm breed af. Plaas deeg-reghoek op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Verf rande met water en pak 5 mm-repe al om die rand van die reghoek. Klits botter en suiker tot lig en romerig. Voeg eier by en klits nog 1 minuut. Voeg amandels en meel by. Meng goed. Skep vulsel bo-op kors en versprei eweredig. Sny pruime met skerp mes in helfte en dan in dun skyfies. Pak skyfies styf teen mekaar sodat die hele vulsel bedek is. Bak vir 30-35 minute of tot goudbruin en gaar. Sit warm voor met roomys of dik room.

Gemmer-en-pruim-spritzer

Begin jou aand lig en vars met hierdie alles-in-een-glas-drankie. 

genoeg vir 1 liter

6 pruime, ontpit en in skywe gesny

750 ml soet rooiwyn

1 toon gemmer, geskil en in skywe gesny

250 ml gemmerbier

ys vir voorsit

1 liter sodawater 

Meng alles saam en sit voor oor ys.