Kersie-en-roos-limonade

genoeg vir 8 (2 liter)

400 g kersies, ontpit

sap en skil van 5 suurlemoene

60 ml rooswater

150 g strooisuiker

1,5 liter sodawater

1 kg gebreekte ys

Plaas kersies, sap en skil van suurlemoen, rooswater en suiker in pot. Bring tot kookpunt en kook 3 minute. Laat koel af en verpulp tot glad met staafmenger. Plaas in ponsbak en voeg sodawater en ys by. Meng deur en sit voor.

Warm calamari-en-kersieslaai

genoeg vir 6

Daar is min dinge wat so lekker is soos baba-calamari wat perfek gebraai is en heerlik voorgesit word. Ek het dié slaai leer maak by ’n Portugese vriendin wat saam met my studeer het. Sy kon met min bestanddele eenvoudige disse voorsit wat jou mond behoorlik laat water. By haar het ek geleer dat minder bestanddele beter is as ’n pot vol alles en nog wat.

400 g baba-calamari-tentakels en -buise

45 ml olyfolie

225 g chorizo-wors, in ringe gesny

2 knoffelhuisies, fyngekap

2 brandrissies, baie fyn gekap

30 ml gerookte paprika

2 x 410 g-blikke kekerertjies (chickpeas), gedreineer

400 g kersies, ontpit en gehalveer

1 hand vol Italiaanse pietersielie, fyngekap

sout en varsgemaalde swartpeper

Gebruik ’n skerp mes en sny die calamari-buise in kleiner ringe (ek het elke buis in drie gesny). Verhit die olyfolie in ’n groot braaipan. Voeg die wors en knoffel by en roerbraai 5 minute. Voeg die calamari by en roerbraai nog sowat 8 minute. Voeg die brandrissie, paprika, kekerertjies en kersies by en braai nog sowat 5 minute. Voeg die pietersielie by en meng deur. Verwyder van die hitte en geur goed met sout en peper. Sit warm voor met tuisgebakte brood en suurlemoenskywe.

Kersie-broodpoedingkoek

genoeg vir 8 

8 croissants

1 x 300 g piesangbrood

1 liter melk

5 eiers

200 g (250 ml) suiker

10 ml kaneel

400 g kersies, ontpit en grofgesny

100 g pekanneute, gekap

100 g donkersjokolade, grofgekap

500 ml vanieljevla vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 °C. Breek die croissants in kleiner stukke en plaas in ’n groot mengbak. Krummel die piesangbrood in kleiner stukke en voeg by die croissants. Voeg die res van die bestanddele by en meng deur. Maak seker alles is goed bedek. Spuit ’n 3 liter-Bundtpan met kleefwerende kossproei en skep die mengsel in die koekpan. Bak die poeding vir 20-25 minute of tot goudbruin en gestol. Keer uit op ’n opdienbord en giet die vla oor. Sit voor.

Soek jy 'n ander episode se resep?

Episode 1: Koring

Episode 2: Pruime

Episode 3: Charcouterie

Besoek Spekko Rice se webtuiste vir meer resepte. 

Volg ook Spekko Rice se FacebookTwitter en Instagram-blaaie.