Inspirasiekos met SARIE is elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147). Dit word met trots geborg deur SA Pork. 

Kekerertjie-lemmetjie-en-garnaalslaai
 Kekerertjie-lemmetjie-en-garnaalslaai

Die dag toe seekos en sitrus gemaak is, het iemand geweet hierdie twee bestanddele gaan eendag trou en saam mense se monde baie gelukkig maak met smake soos geen ander nie. Hierdie slaai kan ’n hele maaltyd op sy eie wees.

genoeg vir 6-8

  • 45 ml botter
  • 2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
  • 24 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak
  • 1 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngerasper
  • 250 ml olyfolie
  • 100 ml verjuice (sap gemaak van suur groen druiwe)
  • gerasperde skil van 3 lemmetjies
  • sap van 1 lemmetjie
  • 1 hand vol pietersielie, grofgekap
  • 2 x 410 g-blikke kekerertjies, gedreineer
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g slaaiblare van jou keuse

Verhit botter tot warm in middelslagpot. Voeg knoffel en garnale by. Roerbraai vir 8-10 minute of tot garnale begin verbruin en deurgaar is. Hou eenkant. Meng gemmer, olyfolie, verjuice, lemmetjieskil en -sap saam in middelslag-mengbak. Voeg pietersielie by en meng goed. Voeg kekerertjies en gaar garnale by. Geur baie goed met sout en peper. Meng deur en laat marineer in yskas vir 2 uur. Plaas in opdienbak saam met slaaiblare. Sit voor.

Varkvleis-kerriesosaties

Varkvleis-kerriesosaties

My weergawe van ’n ou SA gunsteling, ’n ete op sy eie!

genoeg vir 4

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngerasper
  • 60 ml medium kerriepoeier
  • 2 lourierblare
  • 750 ml witwynasyn
  • gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 200 ml fyn appelkooskonfyt
  • 30 ml koekmeel
  • 30 ml water
  • 3 varkfilette, in blokkies gesny
  • 200 g Turkse appelkose
  • sosatiestokke

Verhit olyfolie tot warm in groot pot. Voeg uie, knoffel en gemmer by. Roerbraai vir 2 minute. Voeg kerriepoeier by en braai nog 1 minuut. Voeg lourierblare, asyn, skil van 2 suurlemoene en konfyt by. Bring tot kookpunt en kook vir 2 minute. Meng meel en water saam en gooi by mengsel terwyl jy roer. Kook vir 5 minute. Ryg blokkies vleis om die beurt met appelkose op sosatiestokke (of op suurlemoentakke, soos ek maak). Gooi warm asynmengsel oor en marineer vir 2 uur. Braai oor warm kole tot goudbruin en gaar. Sit voor met jogurt.

Suurlemoentert

Die ware suurlemoen-meringue-tert

Die lekkerste deel van die tert is die suurlemoenroom wat jy self maak. Druk self jou suurlemoensap uit – jy kan die verskil proe.

genoeg vir 1 tert

Soetkors

  • 200 g vanieljekoekies, fyngekap
  • 100 g botter, gesmelt

Suurlemoensmeer

  • 250 ml vars suurlemoensap
  • 4 eiers
  • 2 eiergele
  • 250 ml suiker
  • knippie sout
  • 350 g koue botter

Switserse meringue

  • 4 eierwitte
  • 90 ml suiker
  • 1 ml sout

Meng koekies en botter saam. Voer tertpan uit met die krummelmengsel om ’n kors te maak. Maak ’n dubbelkoker met ’n klein kastrol en glasbak wat maklik op die kastrol se rand pas. Gooi sowat ’n kwart van die kastrol vol water en plaas oor matige hitte. Plaas suurlemoensap, eiers, eiergele, suiker en sout in die glasbak en begin dadelik klits met ’n draadklitser. Klits aanhoudend totdat die mengsel gaar en dik word, 8-10 minute. Sodra die mengsel gaar is, gooi dit in koue bak weg van die hitte af. Sny die koue botter in stukkies en gooi een vir een by die mengsel. Verwerk dit deurentyd met staafmenger tot al die botter bygevoeg is. Giet die suurlemoensmeer in gebakte tertkors en smeer gelyk. Plaas vir 1 uur in yskas om te stol.

Plaas eierwitte, suiker en sout saam in die bak van ’n staanmenger. Plaas oor ’n kastrol met pruttende water – die bak moenie aan die water raak nie. Klits die mengsel aanhoudend met ’n ballonklitser terwyl die bak op die kastrol rus. Verhit tot eierwitmengsel warm is (dit moet jou vinger brand) en die suiker opgelos het. Plaas in staanmenger en klits by hoë spoed tot dit stywe en blink punte vorm. Skep ’n groot meringue-wolk bo-op die suurlemoenvulsel – jy kan ook rosette spuit met ’n spuitsak. Brand goudbruin met kombuisblaasvlam. Sit voor.