Jy benodig

  • 1 ciabatta-brood - so 1 dag oud
  • sowat 30 ml koue water
  • 6 tamaties, in kwarte gesny
  • 1 rooi-ui, fyngekap
  • halwe Engelse komkommer, in blokke gesny
  • 1 selderystok, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 90 ml olyfolie
  • 30 ml rooiwynasyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • groot hand vol vars basiliekruidblare, grofgebreek

Sny die brood in hap-groottes. Plaas die stukke in ’n groot mengbak. Gooi die water oor en meng goed deur. Die brood moet net klam wees, nie pap van die water nie. Verwyder die pitte van die tamaties. Sny in groot blokke. Voeg so twee derdes daarvan by die brood. Voeg nou ook die ui, komkommer, seldery en knoffel by. Gooi die helfte van die olyfolie en al die asyn oor. Geur met sout en swartpeper. Meng goed deur. (Ek vind met jou hande is dit die maklikste.) Maak die bak toe met kleefplastiek en laat staan vir 30 minute sodat die geure kan vermeng. Meng nou die basiliekruidblare deur en sprinkel die res van die olyfolie oor. Strooi die oorblywende tamaties bo-op en garneer met ekstra basiliekruidblare.


Blink plan
As jy dieselfde dag besluit om die slaai te maak en jy het nie ’n “ou” ciabatta nie: Verhit jou oond tot 140 ºC. Breek die vars brood in stukke en plaas op ’n bakplaat in die oond tot dit uitgedroog is. Volg dan die resep.