(6 porsies)

  • 500 g droë, groot witbone, oornag geweek óf 3 tot 4 blikke botterbone as jy nie tyd het om die bone oornag te week nie
  • sonneblomolie
  • 8 stukke lamsnek
  • 8 stukke kort lamsribbetjie
  • 2 uie, fyngekap
  • 20 ml matige kerriepoeier
  • 30 ml borrie
  • 15 ml fyn appelkooskonfyt
  • 8 middelslag-aartappels, geskil
  • sout en vars gemaalde swartpeper

Plaas die bone in ’n groot kastrol en tap koue water in tot die bone bedek is. Maak toe met ’n deksel en bring tot kookpunt. Skakel die plaat onmiddellik af en laat staan die bone oornag in die water. Verhit ’n bietjie sonneblomolie in ’n oondkastrol en braai die lamsnek en ribbetjie oor stadige hitte tot mooi bruin. Verhit die oond tot 180 °C. Voeg die gekapte ui by die vleis en braai vir 10 minute. Plaas die kastrol vir ’n uur in die oond sodat die vleis sag word.

Skakel intussen weer die plaat aan en kook die bone tot sag. Haal die kastrol met die vleis uit die oond en voeg die kerriepoeier, borrie en appelkooskonfyt by. Geur met sout en swartpeper.

Dreineer die bone en voeg saam met die geskilde aartappels by die vleis. Voeg ’n koppie water by. Meng deur en plaas terug in die oond. Laat die kerrie vir minstens nog 2 uur in die oond. Jy kan die temperatuur verlaag na 160 °C en die kerrie stadig kook. Hou dop en indien nodig, kan jy nog water byvoeg.


Sit voor saam met

Blatjang en roti’s.