(8 – 10 porsies)

  • 500 g fyn klapper
  • 100 g botter, gesmelt
  • 100 g strooisuiker
  • 2 eierwitte

Vulsel

  • 4 x 230 g-houers roomkaas
  • 210 g (250 ml) strooisuiker
  • 30 ml koekmeel
  • 5 eiers
  • 125 ml room
  • 1 vanieljepeul, saadjies uitgekrap
  • 100 g klapperskaafsels
  • 100 g bloubessies

Verhit oond tot 180 °C. Meng klapper, botter, suiker en eierwitte in ’n middelslag-mengbak. Dit moet die tekstuur van nat seesand hê. Voer ’n 30 cm-losboompan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende sproei. Gooi helfte van klappermengsel in pan. Gebruik jou vingerpunte en druk teen rand van pan vas, al in die rondte om tot bo. Gooi res van klapper in pan en druk stewig vas op die bodem van pan. Jy hoef glad nie presies te werk nie, hoe ruwer hoe beter. Plaas in warm oond en bak vir sowat 15 minute of tot goudbruin. Vulsel Plaas kaas, strooisuiker en meel in elektriese menger. Klop goed vir sowat 2 minute. Breek eiers een vir een by en meng goed. Voeg room by en klits vir sowat 5 minute of tot ’n dik en romerige mengsel. Voeg vanieljesaadjies by en meng goed. Gooi vulsel in gebakte kors en bak vir 15 minute. Draai temperatuur af na 140 °C. Bak vir nog 1 uur en 20 minute of tot net gestol. Haal uit en laat afkoel. Plaas in yskas en laat verder stol. Sit voor met klapperskaafsels en bloubessies.