MOENIE JOU EIE KOP VOLG NIE:

Jy is so lief vir jou hond, jy kook selfs spesiaal vir hom kos. Maar al sit jy hope liefde daarin, het dit heel moontlik nie die regte en genoeg voedingstowwe nie. Tot 96% van tuisgemaakte hondekos kan sleg wees vir jou viervoetige kind se gesondheid, is in ’n studie in die Journal of the American Veterinary Medical Association bevind.

Meer as 200 resepte in hoog aangeskrewe veeartseny-teksboeke en van troeteldiervoedingkundiges en verwante bronne is geanaliseer. Daarvan het 191 nie die paal gehaal nie. Dis veral die balans van voedingstowwe wat belangrik is, sê dr. Ingrid de Wet, hoofveearts en mede-eienaar van die EberVet Country Animal Clinic op Somerset-Wes.

In nog ’n studie deur Brasiliaanse navorsers is troeteldier-“ouers” gevra om hondekos volgens ’n resep te maak. Selfs al was die resepte goed saamgestel, het die deelnemers aan die studie meestal nie die instruksies noukeurig genoeg gevolg om ’n gesonde maaltyd vir hul hond voor te sit nie, is bevind.

  • Gebruik ’n goeie resep, saamgestel deur ’n troeteldiervoedingkundige. As jou woef ’n gesondheidsprobleem het, moet hy dalk ’n spesiale dieet volg.
  • Onthou dat verskillende rasse en ouderdomme se voedingsbehoeftes verskil. Só het ’n tienjarige Yorkshireterriër ’n ander dieet nodig as ’n driejarige Deense hond. Dis veral belangrik om die vlakke van proteïen, kalsium en fosfaat reg te balanseer, volgens dr. De Wet. Volg die resep noukeurig, moenie eksperimenteer nie. As die resep sê verwyder die hoendervel en jy los dit aan, gaan dit die voedingkundige profiel verander.
  • Kook alle hondekos om bakterieë te vernietig wat jou dierevriend siek kan maak. “Ons sien baie siektes van die spysverteringstelsel sowel as inwendige parasiet-probleme weens rou diëte,” volgens dr. De Wet.
  • Kook grane, bone en styselgroentes sodat dit makliker verteer. Nog bronne: petwebmd.com, American Animal Hospital Association (www.aaha.org)

VERMY DÍT:

XYLITOL: Dié kunsmatige versoeter is baie giftig vir honde, selfs in klein hoeveelhede. Dit kom as versoeter in baie produkte voor, bestudeer dus die etiket.

SJOKOLADE, KOFFIE EN KAFEÏEN: Hoe donkerder die sjokolade, hoe gevaarliker. Witsjokolade is die minste gevaarlik en baksjokolade die meeste.

ROSYNE EN DRUIWE: Dit kan nierversaking by sommige diere veroorsaak.

UIE: Dis lekker vir jou hond, maar baie daarvan (ook uiepoeier) kan veranderinge in rooibloedselle en anemie (bloedarmoede) veroorsaak. Los ook die knoffel en grasuie.

NEUTE bevat baie olie en vet, wat onder meer vomering en diarree kan veroorsaak.

Gebruik bitter min SOUT, indien enige. Groot hoeveelhede kan tot oormatige dors en urinering lei, of selfs natrium-ioon-vergiftiging. Dis veral belangrik om op te let by honde met hart- of nierprobleme, volgens dr. De Wet.

Honde wat gereeld groot hoeveelhede SUIKER eet, se kans op vetsug, tandprobleme en diabetes vergroot.

ALKOHOL kry ’n groot nee!

MELK: Nadat ’n hond gespeen is, sukkel hy om melk te verteer en dit kan diarree veroorsaak.

BENE: “Te veel diere raak siek van bene. Jou hond kan selfs doodgaan as dit in die derms of maag vassit,” sê dr. De Wet.

Nog bronne: petwebmd.com, www.aspca.org

GEBRUIK DÍT MAAR:

GRONDBOONTJIEBOTTER: Honde is lief daarvoor en die gesonde vette goed vir hul hart. Kies die rou, ongesoute produk en vermy die suikervrye, “ligte” een. Pasop vir xylitol.

JOGURT: Die probiotika daarin is goed vir sy spysvertering.

SALM: Die omega 3-vetsure hou sy pels blink en gesond.

EIERS (gaar): Dit bevat proteïen en ander gesonde voedingstowwe.

GAAR WIT RYS OF PASTA: Witrys met opgekookte hoender kan hom beter laat voel as sy maag omgekrap is.

MAER VLEIS wat goed gekook is: Verwyder alle sigbare vet, insluitend pluimvee se vel. Ook alle bene. HAWERMOUT: Dis ’n goeie bron van oplosbare vesel, voordelig vir ouer honde met vaste mae.

PYPKANEEL: Kan gewrigspyne weens artritis help verminder. Ook uitstekend vir bloedsuikerbeheer en cholesterolvlakke.

PIETERSIELIE: Sit op kos om sy draak-asem vars te hou.

Nog bronne: University Animal Hospital (universityvet.com), petwebmd.com