Dit is my kinders se gunsteling. Toe ek klein was (ek wil nou nie my ouderdom verklap nie), was pasta nou nie eintlik op die spyskaart vir elke dag se eet nie. Ek gaan kyk toe een Saterdagmiddag Walt Disney se Lady and the tramp - die animasiefliek -en toe die twee hondjies saam ’n bak pasta met tamatie en vleisballetjies eet en hul bekkies saam by ’n vleisballetjie kom, raak hulle sommer verlief. Nogal ’n lekker romantiese gereg.

Basiese tamatiessous-resep
Ek verdubbel die resep dikwels, sodat ek die helfte kan vries vir ’n ander keer.

  • 3 blikke gekapte tamaties
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 3 vars knoffelhuisies, fyngedruk
  • 250 ml rooi- óf witwyn
  • 1 sakkie/50 g tamatiepasta
  • 10 ml gemengde droë kruie of vars origanum
  • 10 ml sout
  • 5 ml suiker
  • vars gemaalde swartpeper na smaak.

Braai die ui en knoffel saam in ’n bietjie olyfolie. Voeg die tamaties by en roer dit goed deur. Voeg die res van die bestanddele by. Roer en sit die deksel op en laat dit kook vir sowat 2 uur oor ’n lae temperatuur. Gooi klein frikkadelle (te koop by supermarkte) in die sous so 10 minute voor julle eet. Kook 1 pak spaghetti (500 g) volgens die aanwysings op die pak - dit is genoeg vir 6 stewige porsies. Kinders is mal oor gerasperde Cheddarkaas en grootmense oor gerasperde Pecorinokaas daarby.