Gebruik ’n leë tweeliter plastiekkoeldrankbottel.

Sny die bottel in die helfte (of so hoog soos jy die bak wil maak).

Kook water en laat dit heeltemal afkoel. Gooi van die water so 3 cm diep in die deurgesnyde bottel. Plaas in die vrieskas. Sny suurlemoene in dun skyfies. Wanneer die water begin vries, druk jy van die skyfies daarin. Vul nou weer met water en plaas lekker baie suurlemoenskyfies daarin.

Die houer moenie tot heel bo vol wees nie. Plaas terug in die vrieskas. Wanneer die water gevries is, haal jy dit uit en plaas ’n klein metaalbakkie in die middel bo-op die ys.

Vul die houer tot heel bo met water en plaas ’n klomp suurlemoenskyfies rondom die metaalbakkie. Hulle moet sorg dat die bakkie in posisie bly sodat dit ’n holte in die middel van die ysbak vorm vir die sorbet.

Plaas terug in die vrieskas tot gevries. Haal uit en dompel baie vinnig in kookwater om die twee houers los te kry. Gebruik die ysbak dadelik.