Kook stylvol, eet bekostigbaar

Ek is op ’n missie om elke kombuis in die land oor te neem en almal aan die kook te kry! Oor die volgende paar weke wil ek vir SARIE-lesers wys dat jy elke aand vir net R150 (ja, regtig, nie net omdat dit goed klink nie!) vir jou gesin van vier goeie kos op die tafel kan sit.

Ek gaan elke dag ’n resep met julle deel wat ek met net R150 of minder gemaak het. Goeie kos beteken nie duur bestanddele nie, nee, dit beteken eerder goeie gaarmaakmetodes, slim inkopies doen en natuurlik die regte gereedskap gebruik. So kom sit aan en weet dat ons met goeie kos ons wêreld ’n beter plek kan maak! – Herman Lensing

Het jy verlede week se resepte gemis? Klik hier:

MAANDAG: Varkworsies en pere in mosterdsous

DINSDAG: Tamatie-en-basiliekruidsop

WOENSDAG: Warm caprese-spaghetti

DONDERDAG: Bone-en-frikkadelsop

VRYDAG: Skelviskoekies met mayonnaise

Suurlemoenjogurt-hoenderkebabs op gebraaide aspersies

genoeg vir 4-6 

Hoender en suurlemoen is natuurlike pasmaats. Jy kan die jogurt met karringmelk vervang as jy wil, en braai die sosaties in ’n warm riffelpan as jy nie vuur wil maak nie.

  • 1 ui, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 6 takkies tiemie, fyngekap
  • 1 hand vol Italiaanse pietersielie
  • 250 ml Griekse jogurt
  • sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 8 hoenderborsies sonder vel en been, in groot stukke gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 400 g vars aspersies
  • 45 ml olyfolie
  • 1 suurlemoen, gehalveer

Metode:

Meng die ui, knoffel, tiemie, pietersielie, jogurt en suurlemoensap en -skil saam.

Ryg die hoenderstukke op kebabstokkies. Plaas in ’n plat bak en geur met sout en swartpeper. Gooi die marinade oor.

Dompel die aspersies vir 2 minute in kookwater en dreineer. Kry die kole reg tot mediumwarm. Plaas die hoenderkebabs op ’n rooster en braai sowat 5-6 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Wanneer die hoender byna gaar is, plaas die aspersies op die rooster en verf dit met olyfolie. Geur met sout en peper. Braai 2-4 minute. Verwyder van die hitte en druk suurlemoensap oor. Sit voor saam met die gaar kebabs. 

Wenk: Week jou kebabstokkies in warm water so 30 minute voor jy die hoender daarop ryg. Dit voorkom dat die stokkies te veel brand wanneer jy die vleis braai.

Herman Lensing het Le Creuset se splinternuwe Provence-reeks gebruik om stylvol te kook.

Klik hier om Le Creuset se webtuiste te besoek vir meer inligting.