Kook stylvol, eet bekostigbaar

Ek is op ’n missie om elke kombuis in die land oor te neem en almal aan die kook te kry! Oor die volgende paar weke wil ek vir SARIE-lesers wys dat jy elke aand vir net R150 (ja, regtig, nie net omdat dit goed klink nie!) vir jou gesin van vier goeie kos op die tafel kan sit.

Ek gaan elke dag ’n resep met julle deel wat ek met net R150 of minder gemaak het. Goeie kos beteken nie duur bestanddele nie, nee, dit beteken eerder goeie gaarmaakmetodes, slim inkopies doen en natuurlik die regte gereedskap gebruik. So kom sit aan en weet dat ons met goeie kos ons wêreld ’n beter plek kan maak! – Herman Lensing

Varkworsies en pere in mosterdsous

genoeg vir 4

Oor sekere dinge in die lewe hoef jy nie nog te wik en weeg nie; jy doen dit net. Dié varkworsiegereg is een van daardie dinge. Jou gesin sal vir ewig hiervoor vra as hulle dit eers geproe het!

  • 2 uie, in skywe gesny
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 12 varkworsies
  • 4 pere, in kwarte gesny
  • 45 ml olyfolie
  • 45 ml dijon-mosterd
  • 250 ml appelsap
  • 3 takkies tiemie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

Verhit die oond tot 200 °C. Plaas die uie en knoffel in ’n oondroosterpan.

Pak die worsies en pere bo-op. Meng die olyfolie, mosterd, appelsap en tiemie saam. Gooi oor die worsies.

Geur goed met sout en peper. Plaas in die warm oond en bak 20-25 minute of tot die wors goudbruin en gaar is. Sit warm voor.

Wenk: As jy stysel by die worsies wil eet, kan jy klein baba-aartappels halveer en dit saam met die worsies bak.

Herman Lensing het Le Creuset se splinternuwe Provence-reeks gebruik om stylvol te kook.

Klik hier om Le Creuset se webtuiste te besoek vir meer inligting.