JUL FACEBOOK NR.1!
Ons het op SARIE se Facebookblad gevra wat jul gunsteling-yskastert is en die malvalekkertert het gewen. Hier is ons weergawe. 

GENOEG VIR 1 TERT

• 1 x 200 g-pakkie sjokoladeklapperkoekies
• 100 g (110 ml) botter, gesmelt
• 500 g roomkaas
• 30 ml vars suurlemoensap
• gerasperde skil van 1 suurlemoen
• 375 g wit malvalekkers
• 90 ml melk
• 30 ml kakao plus ekstra vir versiering
• 1 x 227 g-blik fyn pynappel, gedreineer
• 250 ml room, styfgeklits
• 100 g donkersjokolade, gesmelt
• 125 g frambose

Voer ’n ronde koekpan van 25 cm in deursnee met kleefplastiek uit. Plaas TEkoekies in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot fyn. Voeg botter by en meng tot klam mengsel vorm. Voer pan se bodem en kant uit met koekiemengsel. Hou eenkant. Klits roomkaas en suurlemoensap en -skil met elektriese klitser tot gladde mengsel vorm. Hou eenkant. Plaas malvalekkers en melk in groot pot en laat smelt oor matige hitte. Roer deurentyd met ’n houtlepel. Voeg kakao en pynappel by en roer tot glad. Verwyder van hitte. Laat effens afkoel tot louwarm. Voeg malvalekkermengsel by roomkaasmengsel en meng. Vou room by en gooi mengsel in uitgevoerde pan. Laat stol 6 uur lank of oornag in yskas. Skep sjokolade bo-op en smeer gelyk. Plaas vir 10 minute in yskas of tot hard. Verwyder pan se ring. Rol frambose in ekstra kakao en sit bo-op tert. Sit voor.