6 porsies

Koop die volgende

  • Dolmades (rysgevulde wingerdblare)
  • Gemarineerde rooi soetrissies
  • Taramasalata (romerige viseier-patee)
  • Songedroogde tamaties

Ek hou daarvan om 2 groot brode te bak pleks van kleiner brode. Dis lekker om die brood sommer net so op die tafel te sit, en almal breek ’n stukkie af.

(2 brode)

Jy benodig

  • 10 g-pakkie kits-suurdeeg
  • 5 ml suiker
  • 450 g (800 ml) witbroodmeel
  • 2 ml sout
  • sowat 275 ml louwarm water

Meng die suurdeeg, suiker, meel en sout in ’n mengbak. Voeg genoeg water by om ’n kniebare deeg te vorm. Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en knie vir 10 - 15 minute. Dis baie belangrik dat die deeg goed en lank geknie word vir die regte tekstuur. Plaas in ’n skoon bak en bedek met ’n lap. Sit op ’n warm plek en los totdat die deeg tot dubbel die grootte gerys het. Verhit jou oond tot die maksimum, 240 °C of 260 °C. Knie die deeg af wanneer dit klaar gerys het. Vorm twee lang brode en plaas op ’n bakplaat. Laat weer rus op ’n warm plek om tot dubbel die grootte te rys. Sprinkel koue water oor en plaas in die warm oond. Bak vir 10 - 12 minute. Moenie die oonddeur oopmaak voor die brood gaar is nie.