Dis mooi! Die meringue-koek is ’n bonus, want dit kan al so 2 dae voor die tyd gemaak en in ’n lugdigte houer gehou word. Onthou, die meringue-koeke kan breek as jy dit uit die koekpanne haal. Al wat jy dan doen: Breek dit eenvoudig in groot stukke, neem ’n groot glasbak en pak dan lae met die appelvulsel. Versier ook met die klein toffie-appeltjies.

  • 8 eierwitte
  • 250 g strooisuiker
  • 200 g versiersuiker
  • 25 g mielieblom
  • 100 g pekanneute, fyngekap

Vulsel

  • 500 ml room
  • 1 blik (750 g) geblikte appel
  • 100 g pekanneute, fyngekap

Bo-op

  • 250 ml room, styfgeklop
  • 2 blikke klein appeltjies met steeltjies
  • 400 g suiker
  • 125 g water
  • 10 ml asyn
  • 75 g gouestroop
  • knippie sout
  • rooi kleursel

Die hele storie lyk nogal na ’n groot affêre, maar jy kan die meringue-koek vooraf maak. Gebruik verkieslik ’n elektriese menger - klits die eierwitte tot die sagtepuntstadium. Voeg nou die strooisuiker bietjie vir bietjie by. Sif die versiersuiker en mielieblom saam en vou die gesifte mengsel met ’n groot metaallepel in die eierwitmengsel. Vou die pekanneute in. Gebruik twee 20 cm losboomkoekpanne wat jy met bakpapier uitgevoer het. Spuit die pannetjies met Spray & Cook. Verdeel die meringue tussen die twee panne. Plaas in die oond teen 120 °C vir 3 uur. Maak dan die oonddeur oop en laat heeltemal in die oond afkoel. Onthou die binnekant van die meringue sal nog sag wees, en dis wat jy wil hê.

Die vulsel is heelwat makliker
Klop die room styf, voeg die geblikte appels en fyngekapte neute by. Sit die een laag van die meringue op jou opdienbord. Skep nou al die vulsel bo-op (dit klink baie, maar dis immers Kersfees!). Sit die twee meringue-koeke bo-op. Klop die ander 250 ml room styf en spuit of skep dit bo-op. Teen dié tyd moes jy al jou appeltjies gemaak het.

Toffie-appeltjies
Verhit al die bestanddele (buiten die appeltjies) stadig saam in ’n groot kastrol. Hou aan met roer tot die suiker opgelos is. Sorg dat die suiker gesmelt is voor die mengsel kook. Kook tot ligtekraakstadium (138 °C) - as die stroop in koue water gedrup word, versprei dit in drade wat styf en effens bros is. Verwyder van hitte en doop die appeltjies versigtig in die stroop. Wees regtig versigtig omdat die appeltjies klein en die stele kort is. Laat op waspapier afkoel en versier die meringue-koek daarmee wanneer koud.