• 30 g botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 300 ml witwyn
  • 450 g mossels, uit die skulp
  • 400 g klein rosa-tamaties, in blokkies gesny
  • 30 g vars pietersielie, fyngekap
  • 50 ml olyfolie
  • sap van halwe suurlemoen
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Smelt die botter oor ’n lae hitte in ’n kastrol. Braai die uie en knoffel saam tot deurskynend. Voeg die witwyn (sauvignon blanc) by. Bring tot kookpunt en gooi die mossels by. Laat kook vir 5 minute. Verwyder die kastrol van die hitte en laat afkoel in die sous. Jy kan nou die mossels in die yskas sit tot net voor opdiening. Kap die rosatamaties in blokkies en meng met die pietersielie, olyfolie en suurlemoensap. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Wanneer die mossels koud is, skep dit versigtig uit die sous. Meng die mossels met die tamatie-slaaisous. Skep in Chinese lepels en sit voor.


Wenk

Hou die mossels heeltyd in die yskas tot jy die gereg voorsit.