Gebruik die koringvrye basiese muesli-resep as vinnige ontbyt met jogurt of in al die resepte wat volg. Jy kan die muesli natuurlik by die supermark koop – maak net seker dis ook koringvry.

Genoeg vir 1 kg

• 250 g (500 ml) hawermout

• 60 g (250 ml) growwe klapper 

• 120 g (250 ml) pampoensaad

• 110 g (250 ml) sonneblomsaad

• 230 g (350 ml) gemengde neute

• 5 ml fyn kaneel

• 200 ml heuning

• sap en skil van 1 lemoen

• 200 g (335 ml) bosbessies (cranberries)

• 200 g Turkse appelkose, gekap

• 100 g gemengde droëvrugte

Verhit oond tot 180 ºC. Meng hawermout, klapper, sade en neute en plaas op bakplaat in eweredige laag. Sprinkel kaneel oor. Plaas heuning, lemoensap en -skil in middelslag-pot en bring tot kookpunt. Kook 5 minute. Gooi oor hawermoutmengsel en meng goed deur met houtlepel. Versprei weer eweredig en plaas in oond. Oondbraai 20 – 25 minute of tot mengsel goudbruin verkleur. Roer elke 5 minute deur en versprei weer eweredig op bakplaat. Verwyder uit oond, voeg vrugte by en meng deur. Laat afkoel en bêre in lugdigte houer.