(6 porsies)

  • 1 hoeveelheid pastadeeg (sien verwante artikels)
  • 3 - 4 eetlepels tuisgemaakte tamatiesous per porsie (besluit self hoeveel jy wil gebruik)
  • 6 groot sampioene
  • botter en olyfolie om sampioene in te braai
  • 3 huisies vars knoffel
  • 250 ml room
  • 5 takkies basiliekruid
  • olyfolie om oor te sprinkel
  • sout en vars gemaalde swartpeper

Maak die pastadeeg volgens die aanwysings. Hier begin rolwerk. Rol so dun as moontlik uit. Sny in groot blokke, ongeveer 10 cm x 5 cm - die keuse is eintlik joune, maar ek reken dit is ’n lekker grootte. Kook ’n groot kastrol water met sout en ’n bietjie olie. Moenie al die pasta gelyk kook nie anders kan dit aanmekaar kleef. Die pasta moet vir ongeveer 10 minute kook. Ek wil nie sê 10 minute nie, want met tuisgemaakte pasta kan die kooktyd verskil omdat almal se pasta-dikte verskil. Hou net die pasta warm. Terwyl dit kook, sny die sampioene in skywe en braai in ’n pan met so 2 eetlepels botter en ’n bietjie olyfolie tot bruin en gaar. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Skep 1 eetlepel tamatiesous in ’n bak, dan pasta, dan so 2 eetlepels room en dan sampioene. Herhaal so ’n paar keer en wanneer jy tevrede is met die hoeveelheid, sprinkel nog ’n klein bietjie olyfolie oor en sit voor met vars basiliekruid en vars gemaalde swartpeper.