Die woord jaffel laat my glimlag. ’n Koddige woord vir ’n koddige kos-implement so deel van ons kospsige soos boerewors en biltong.

Die pan is alles. Die tien gebooie van jaffels stipuleer jy mag nie jou buurvrou se jaffelpan begeer nie, ook nie leen nie.

As jy ’n ou jaffelpan in ’n goeie toestand op ’n vlooimark sien, skaf dit aan. Ou jaffelpanne is gekuur deur jare se geluk gee en herinneringe van basaars, landbouskoue en gesinsvakansies, wat deur ’n magiese proses van osmose deel van die ysterpan geword het.

Vermy ’n dun, blikkerige jaffelpan, en bly weg van foefies. Dis wys om meer as een pan te hê, anders moet die een wag terwyl die ander een eet. Dubbel- en trippeldoor-jaffelpanne kan ingespan word as jy honderde jaffels vir ’n basaar of bedrywige plaasmark beplan.

Die pan is ’n triomf van lae tegnologie. Jy kort ’n vlam of vuurtjie, nie ’n kragprop nie. Die uitvinder, dr. Ernest Smithers van Australië, het die visie én humorsin gehad om ’n oblietjieyster so suksesvol te kruis met ’n vreemde vlieënde voorwerp. Die boepenspan met sy volmaanrondings leef voort as een van die meer gemoedelike kosoorblyfsels uit die ruimtevaart-era van die 1950’s en 1960’s.

FOTO'S: Donna Lewis

Ons het die pan en die broodjie ons eie gemaak, ’n simbool van skoue, kerkbasaars en sorgelose woonwa-vakansies. Met die groeiende straatkoskultuur ontdek ’n nuwe generasie opnuut die smaakmoontlikhede van hierdie retro-happie. In ’n nasionale referendum sal dit ’n taai stryd wees tussen die kerriemaalvleis-jaffel en die braaibroodjie. Diegekibbelry oor waar die blatjang hoort – binne die jaffel of langsaan die jaffel op die bord – sorg vir struweling tussen die twee faksies.

Die einste kerriemaalvleis-jaffel het ’n ambassade in die VSA, waar oud-Kapenaar Meryl van der Merwe dit inspan vir haar American Dream. Haar kos-empire, Jafflz,wat sy uit Park City, Utah, bedryf, versprei die outentieke Suid-Afrikaanse jaffel reg oor die VSA. Die “Ba-bootie”,’n speelse verwysing na bobotie, is die kenteken-jaffel op die spyskaart; die smaak outentiek Kaaps-Maleis, lig op brand en groot op smaak.

Dit troon in gewildheid uit bo ander verbeeldingryke skeppings soos die Shorty Beef Jaffle van rooiwyn-gemarineerde rafeltjievleis met gekaramelliseerde uie en cheddar.

Gourmet-jaffels is groot nuus, maar vir die nostalgiesmaak van die kerkbasaar-jaffel, gebruik winkelwitbrood en los die sourdough, windmaker brioche, heilsame rogbrood en multisaad-glutenvryes in die broodblik.

Hou ook maar die Brie de Meaux en swart wintertruffels vir iets anders. Ek lees van ’n sjef wie se droomjaffel gevul is met dun snytjies geroosterde eend, foie gras parfait en goue rosyntjie-jus. Hoewel dit wys wat ’n jaffel alles kán wees, bly ek wonder wat wil dit wees? Streef dit enigsins na Michelin-ster-inspeksie? Die broodjie is juis so goed geseël en diskreet dat niemand hoef te weet van jou pienk polonie, of boeliebief-jaffel-smagting nie.

Jaffels is allemansvriend en armmansvriend. Dis eindevan-die-maand-vriend. Dis oorskiet se beste maat: Sondag se oorskiet-hoender met ’n skepsel atjar of mayonnaiseblaat wyk die Maandag-blues. Jaffels is ’n gewillige tuiste vir die oorskiet-skaapboud. Selfs die oorskiet-sagopoeding en klontjie appelkooskonfyt smeek om nes te skop tussen tweecstewige snye brood.

Nog ’n patriotiese suster wat al vervulling in ’n jaffelpan gesoek het, is mosbolletjie-en-melktertjaffel, geseën met ’n motreëntjie kaneelsuiker en nartjieskil-gegeurde room. Hierdie kruisbestuiwing tussen tradisionele geregte en koskulture is ’n goeie manier om die liefde en lus vir die oorbekende weer op te kikker, soos nuwe slaapkamertruuks vir die huwelik is. ’n Rits eksperimente vloei daaruit – van ’n pizza-jaffel, boereworsrol-jaffel en macaroni-en-kaasjaffel tot die cordon bleu-jaffel.

My pogings is selde beter as die oorspronklike en lei soms tot ’n identiteitskrisis, soos die hamburger-patty-jaffel. Nóg burger, nóg jaffel; en hoe gemaak met die kropslaai? Die ou wysheid “probeer alles en behou die goeie” geld hier. Vat ’n kans met die Russiese swartbrood-ramen-misojaffel met takbokkaas as jy moet – ’n kerriemaalvleis-jaffel wag jou met ope arms by jou naaste kerkbasaar in.

Allemansvriend en armmansvriend - ERRIEDA DU TOIT, DIE HUISKOK

Hier's vyf van ons gunsteling-resepte:

1. Tuna-melt-jaffels

My ma het gereeld op Sondagaande vir ons tunabroodjies gemaak. Dit bly steeds vir my 'n wenner. 

2. Gou-gou-hoenderkerrie-jaffels

Ek gebruik klaargaar hoender van die supermark om die kerrie te maak. Dis vinnig en maklik. 

3. Boerewors-frikkadel-jaffels

Boerewors is al jare 'n kortpad-gunsteling in my kombuis, want dis reeds gegeur. 

4. Jaffels met sousbone, varkworsies en eier

Die alles-in-een-ontbyt - die perfekte manier om jou dag te begin. 

5. Appeltert-jaffels

Gebruik groen appels soos Granny Smith vir die vulsel.