Lindy van Tonder het onlangs in Thailand gaan vakansie hou. Sy wil graag die kleure en geure van die land met haar vriende deel. Kleurvolle orgidieë bedek die tafel en bakkies vol reukwater skep ’n Thaise gevoel. 

Lindy van Tonder se spyskaart:

• Steurgarnaalrolletjies

• Heelvis gebak met groenkerrie

• Pannekoek met karamelsous

STEURGARNAAL ROLLETJIES

Moenie dink hierdie resep is moeilik of vreemd nie – dis baie gesond en makliker as wat jy dink!

• 12 velle ryspapier

• 30 ml olyfolie

• 500 g steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak

• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

• 1 wortel, in stokkies gesny

• 10 cm-stuk komkommer, in repe gesny

• hand vol koljanderblare, fyngekap

Vir doopsous

• 1 knoffelhuisie, fyngekap

• 3 cm vars gemmer, skoongemaak en fyngerasper

• 15 ml brandrissiesous

• 15 ml vissous

• 60 ml sojasous

Verhit sowat 30 ml olyf olie in ’n pan en braai die steurgarnale vir 5 minute aan weerskante tot gaar. Geur met sout en peper na smaak. Laat eenkant afkoel tot benodig. Plaas ’n vel ryspapier op ’n skoon werkvlak. Besprinkel met water en smeer met jou vingers oor papiervel.

Draai om en herhaal proses aan ander kant. Pak steurgarnale, wortel, komkommer en koljander op ryspapier, maar los ’n rand van sowat 3 cm aan een kant. Vou dié rand bo-oor bestanddele. Vou dan die buitenste twee punte na binne en rol stewig op. Plaas onder ’n klam doek tot later benodig. Plaas al die bestanddele van die sous in ’n klein mengbakkie en roer goed met ’n teelepel. Pak die rolletjies op ’n opdienbord en sit voor met doopsous.

HEELVIS GEBAK MET GROENKERRIE

• 1 heel vis soos forel of salmon

• 30ml olyfolie

• 1 ui, gekap

• 2 knoffelhuisies

• 1 sakkie (80 g) Thaise groenkerriepasta

• 1 blik (400 ml) klappermelk

• 1 groenbrandrissie, gekap

• 1 hand vol vars koljander, gekap

• sout en varsgemaalde swartpeper

• wit rys vir voorsit

Verhit olyfolie in ’n pot en braai ui en knoffel tot goudbruin – so 5 minute. Voeg kerriepasta by en braai vir 3 minute. Gooi klappermelk by en verlaag die temperatuur. Laat stadig kook vir so 10 minute of tot geurige sous vorm. Roer brandrissie en koljander by.

Plaas vis op bakplaat en gooi sous oor. Plaas in warm oond en bak vir 20-25 minute of tot goudbruin en gaar. Geur goed met sout en swartpeper net voordat jy dit met rys voorsit.

PANNEKOEK MET KARAMELSOUS

genoeg vir 24 pannekoek

1 liter melk

• 6 eiers

• 20 ml sonneblomolie

• 10 ml vanieljegeursel

• 200 g (250 ml) suiker

• 420 g (750 ml) koekmeel

• 2 ml sout

• 5 ml neutmuskaat

• ekstra sonneblomolie vir braai

• 200 g bessies van jou keuse

Karamelsous

• 1 x 360 g-blikkie karamelkondensmelk

• 80 ml melk

• 85 g fudge, fyngekap (opsioneel)

Klits melk, eiers, olie, vanielje en suiker saam in ’n middelslag-mengbak. Sif meel, sout en neutmuskaat by en meng tot gladde beslag. Laat rus vir 10 minute in yskas. Verhit ’n klein bietjie olie in ’n braaipan tot warm. Bedek bodem van pan met ’n dun lagie beslag en braai sowat 30 sekondes per kant tot goudbruin en gaar.

Vir die karamelsous, plaas karamel en melk saam in ’n middelslag-pot oor matige hitte. Klits met draadklitser tot loperige, gladde mengsel. Voeg fudge by, indien jy dit gebruik. Sit pannekoek voor met karamelsous en piesang.

Kyk die voorskou hier: