Jy benodig

  • 1 lamsboud, ontbeen
  • 500 ml Bulgaarse jogurt
  • sap van 1 suurlemoen
  • groot hand vol vars basiliekruid, grofgekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Die eerste stap is natuurlik om die vuur aan te steek. Ek braai gewoonlik - ja, jy het reg gelees, ék en nie my man nie! - my lamsboud op ’n Weber - die toemaak-en-wegloopbraai. Plaas die lamsboud in ’n groot bak. Gooi die jogurt, suurlemoensap, basiliekruid en knoffel oor. Gebruik nou jou hande en smeer die mengsel goed regoor die vleis. Laat staan vir minstens 1 uur. (Dit kan ook langer of selfs oornag in jou yskas marineer.) Wanneer jou kole reg is, geur die vleis met sout en swartpeper. Plaas die lamsboud op die Weber, maak toe en loop weg. Draai na ’n ruk die vleis om en braai verder. So gaar soos jy jou vleis wil hê, só lank moet jy dit braai.

Alternatief
Sny die lamsboud in groot blokke. Marineer die vleis soos in die resep en ryg dit dan op stokkies - die wonderlikste lamskebabs.

Om te drink
Boschendal Grand Reserve