Sowat 4 porsies

  • 1 ontbeende varknek
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 eetlepel botter
  • 1 medium ui, fyngekap
  • 1 wortel, fyngekap
  • 1 prei, net die wit deel fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, hou heel
  • 15 ml meel
  • 500 ml melk
  • hand vol vars pietersielie
  • 5 takkies vars tiemie

Bind die varknek met tou vas en geur met sout en peper. Verhit die olyfolie in ’n kastrol en wanneer warm, voeg die botter by. Braai die nek bruin aan alle kante. Verwyder uit kastrol en voeg die ui, wortel, prei, knoffel by en roer goed vir ongeveer 10 minute. Hou aan met roer en voeg die meel by. Laat kook vir sowat 2 minute. Voeg die melk en vars kruie by en bring tot kookpunt. Laat kook vir sowat 5 minute. Voeg die gebraaide varknek en al die sap wat uitgeloop het, by. Verlaag die hitte, maak toe met deksel en laat stadig kook vir 1½ uur. Draai die varknek ’n hele paar keer om. Jy moenie skrik as jy die deksel oopmaak nie, want die melk gaan skif. Verwyder nou die varknek. Gooi die vloeistof deur ’n sif. Bring tot kookpunt in ’n klein kastrol en puree die melkmengsel. Sny die varknek in skywe en gooi die sous oor. Sit voor saam met kapok-aartappels.

Om te drink
Jy wil nie te swaar wyn drink nie, want dis ryk kos dié. 'n Skoon, ligte rooiwyn is die ding. Probeer 'n pinot noir van Muratie of Vriesenhof. Boschendal se Le Pavillon Rouge en Chateau Libertas ... heerlik.