(6 porsies)

Jy benodig

  • 500 ml tamatiesous-resep
  • halveer die pasta-resep
  • halveer die ricotta-en-spinasie-resep
  • 100 g gerasperde parmesaan- of pecorino-kaas, of jy kan parmesaan-skaafsels maak
  • ’n hand vol vars basiliekruid

Rol die pastadeeg in lang stroke uit. Skep die ricotta-vulsel met ’n teelepel ver uitmekaar op die pastastroke. Smeer ’n bietjie water met ’n kwassie om die rande en plaas nog ’n pastastrook bo-op. Druk die pasta-vel goed vas en maak seker dat daar nie lugblasies is nie. (As lugblasies vorm, sal die pasta-sakkies oopkook.) Druk uit met ’n koekie- of ravioli-drukker. Strooi meel op ’n bakplaat en plaas die ravioli bo-op. Bring water tot kookpunt in ’n groot kastrol. Dompel die ravioli versigtig in die kookwater, en wanneer hulle na bo kom, haal dit versigtig uit en hou in ’n bak op ’n warm plek. Skep die tamatiesous oor en sit voor met gebreekte, vars basiliekruid en parmesaan-kaas.

Pasta

  • 250 g meel
  • 250 g semolina
  • 5 eiers

Meng die meel en semolina saam in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel van die mengsel en breek die eiers daarin. Gebruik jou hande en knie die deeg tot elasties. Maak die deeg met kleefplastiek toe en laat rus vir sowat 20 minute. Jy kan nou jou pastamasjien gebruik om die deeg uit te rol, of ’n koekroller. Rol die deeg in lang, dun stroke en sny in blokke van ongeveer 8 cm x 10 cm. Bring ’n groot kastrol met water tot kookpunt. Voeg sout en olie by die kokende water. Dompel die pasta-blokke so 3 op ’n slag in die kookwater. Laat kook vir 3 minute en haal uit. Plaas die pastablokke op kombuispapier om droog te word.

Ricotta en spinasievulsel

Jy kan ook bevrore spinasie gebruik. Ontdooi die spinasie en dreineer goed in ’n vergiettes en volg dan die resep.

  • 400 g baba-spinasieblare
  • 1 ui, fyngekap
  • sowat 30 ml olyfolie
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 900 g ricottakaas
  • 2 eiers
  • sout en vars gemaalde swartpeper

Verhit die olyfolie in ’n kastrol. Braai die gekapte ui en knoffel tot sag en deurskynend. Plaas intussen die spinasieblare in ’n groot kastrol en voeg net genoeg water by sodat die blare nat is. Verwelk die blare oor ’n lae hitte. Dreineer die spinasie in ’n vergiettes en maak seker jy raak van al die vloeistof ontslae. Kap die spinasie fyn in ’n voedsel-verwerker. Voeg die gekapte spinasie by die gebraaide ui en braai dit vir sowat 5 minute. Haal die kastrol van die hitte af en voeg die res van die bestanddele by. Meng baie goed en geur met sout en vars gemaalde swartpeper.