• 420 g (750 ml) broodmeel plus ekstra vir uitrol
  • 5 ml sout
  • 310 ml warm water
  • 115 g (125 ml) botter, gesmelt

Meng meel, sout en water tot stywe, kniebare deeg vorm. Knie 5 minute of tot deeg gladde voorkoms kry. Maak deeg toe onder warm kombers en laat rus 20 minute. Volg nou Anant se stappe van 1 tot 4. 

1. Verdeel deeg in 12 balle. Gebruik jou vingerpunte en druk een bal op ’n slag effens platter – begin in die middel van die deegbal en werk na buite.

2. Gooi ruim meel op werkvlak en rol elke stuk deeg so dun moontlik uit met ’n rolstok – Anant gebruik ’n spesiale plank en roller wat hy van Indië af bring, maar jy kan dit met jou eie koekroller op jou werkvlak rol. Hoe dunner, hoe beter

3. Verhit kleefvrye pan tot warm en gooi deeg droog in die warm pan. Gebruik houtlepel en skuif deeg heen en weer in die pan tot die roti begin oppof soos op die foto. Hou aan tot hele stuk deeg opgepof het. Draai om en braai nog ’n paar minute tot albei kante goudbruin is.

4. Verf warm roti met botter sodra dit uit die pan kom. Vou in helfte en hou warm onder kombuisdoek terwyl jy res braai. Sit voor saam met kerrie. 

SARIE KOS Winter 2018