genoeg vir 4

  • groot GLAD-baksakkie
  • 2 uie, grofgesny
  • 4 aartappels met skil, in kwart
  • e1 groen soetrissie, in kwarte
  • 20 varkworsies (chipolatas)
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 20 ml heel vinkelsaad
  • 20 ml gerookte paprika
  • 60 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 eiers
  • 45 ml wit asyn
  • gerasperde parmesaan vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C. Plaas uie, aartappels, soetrissie, worsies en knoffel in ’n groot baksakkie. Voeg vinkel, paprika en olyfolie by. Geur goed met sout en peper. Maak sak toe volgens aanwysings op verpakking. Skud sak sodat alles in sak bedek is met speserye en olie. Plaas in oondroosterbak in warm oond en bak vir 30-35 minute of tot aartappels sag en gaar is. Terwyl aartappels en worsies bak, maak eiers gaar: Bring pot met so 2 cm diep water tot kookpunt. Voeg asyn by. Breek eiers in water en posjeer vir 5-6 minute as jy sagte eiers verkies of langer vir harder eiers. Lig eiers uit water met gaatjieslepel. Knip sak oop en skep inhoud in dienbakkies. Sit voor met geposjeerde eier en parmesaankaas.