KORS

280 g (500 ml) koekmeel

155 g (170 ml) botter

50 g (60 ml) suiker

45 ml water

VULSEL

4 eiergele

100 g (125 ml) strooisuiker, plus ekstra vir bo-laag

1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap of 5 ml vanieljegeursel

370 ml room

MAAK EERS KORS

Plaas meel, botter en suiker in voedselverwerker. Pols op hoë spoed tot growwe mengsel. Terwyl menger loop, gooi water geleidelik by tot mengsel in een bal saamkom. Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel meel op werkvlak en rol deeg met koekroller uit tot sowat 3 mm dik – hoe dunner, hoe beter. Voer ’n tertpan van 9,5 x 33 cm uit met die deeg. Sny ekstra deeg wat oorhang netjies af. Bak blind vir 15 minute – sien wenk. Verwyder papier en rys en bak kors vir nog 10 minute of tot goudbruin en gaar. Volg stap-vir-stap aanwysings verder.

1. Verhit oond tot 160 °C. Klits eiergele, suiker en vanieljesaadjies of -geursel saam tot lig en romerig.

2. Bring room tot kookpunt oor lae hitte. Terwyl jy eiermengsel klits, gooi warm room geleidelik by.

3. Plaas tertpan met gebakte kors op bakplaat en gooi vulsel deur ’n sif in die kors. Bak vir 30 – 35 minute of tot vulsel gestol is soos jellie. Laat verder stol in yskas tot yskoud.

4. Keer gestolde tert uit pan. Sprinkel dun lagie ekstra strooisuiker oor tert en brand goudbruin met kombuis-blaasvlam. As jy nie so ’n vlam het nie, verhit oondrooster tot rooiwarm en plaas tert ’n paar sekondes onder warm rooster.

WENK VIR BLIND BAK

Voer die deegkors uit met bakpapier. Vul papier met rou rys of bone. Bak vir 15 minute. Verwyder papier met rys of bone. Bak verder tot goudbruin. Jy kan die rys of bone hou om weer blind te bak – maar jy kan dit nie eet nie.